Local sportSport

Karps by dosyne vir Ramcat Fishing se gestremde hengelaars

Die jaarlikse Ramcat Fishing hengelfees vir gestremde hengelaars het vanjaar op ’n nuwe terrein plaasgevind en die hengelaars kon baljaar toe die karps begin byt.

Verandering is nie altyd maklik nie, maar vir die getroue deelnemers van Ramcat Fishing se jaarlikse hengelfees het verandering tydens vanjaar se 13de aanbieding van hierdie unieke geleentheid ’n ondervinding gebied wat baie hengelaars hulle sal beny.

Tydens die vorige twaalf jaar wat die fees by die Irene Country Lodge se bekende dam aangebied is, het die deelnemers gewoond geraak dat ’n karp aan die hoek ’n uiters skaars gelukskoot was. Dié dam het ’n oorvloed babers – tot só ’n mate dat ’n vrywillige organisasie elke jaar hulp aangebied het om die babers wat gevang is in tenks te vervoer en dit dan na ander gebiede verskuif het.

Weens die verandering in eienaarskap van die Irene Country Lodge moes Ramcat Fishing vanjaar ’n nuwe terrein vind om hul hengelfees aan te bied en die keuse het uiteindelik geval op die dam van die Zonderwater Gevangenis naby Cullinan se hengelklub.

Ten spyte van die verandering in terrein het 24 hengelaars en hul helpers ingeskryf om hierdie nuwe terrein se uitdagings aan te durf en geleenthede aan tre gryp.

Gerard (Yster) Smal en sy span het steeds uit hul pad gegaan om die deelnemers se dag spesiaal te maak met oorgenoeg te ete en te drinke, terwyl die manne en dames hulself gou ingerig het om die lyne in die water te kry.

Dit was ook nie lank nie, of die ‘polisiemanne’ het begin fluit en die katrolle het begin sing. Maar anders as vorige jare was die oorgrote meerderheid vis wat tydens vanjaar se hengelfees die hoeke gevat het karps.

Zonderwater hengelklub se dam staan bekend as ’n gunsteling bestemming vir manne wat die geheim ken om die karps in te katrol en dié bekende visse het nie teleurgestel toe die gestremde hengelaars hul lyne – nauurlik met al die geheime bestandele in die aas – eers in die water kon kry nie.

Hoewel daar enkele babers uitgetrek is, was die oorgroote meerderheid van die dag se vangs wel karps wat gebyt het.

Hoewel die meeste deelnemers manne en vroue in rolstoele is, is alle gestremde hengelaars welkom. Deelnemers met ander vorme van gestremdheid het oor die jare deel van die Ramcat Fishing familie geword en dit was juis ’n groep dowe hengelaars wat vanjaar die grootste sukses behaal het. Wat Martin Cloete en sy span ookal in hul aas gebruik het, het gewerk, want hulle het nie net die meeste vis gevang nie, maar ook die grootste karps.

Daar was ’n paar knewels tussen 1kg en 2kg, maar die rekord vir die dag was ’n bielie karp van 2,2kg.  Nog twee getroue helpers wat ’n lang verbintenis met die Ramcat Fishing hengelfees het, André La Grange en Debbie de Billiot van die Suid-Afrikaanse Legioen, ’n organisasie vir militêre veterane, het weer gehelp met die inweeg van die vangste.

Danksy vrygewige borge kon Smal en sy span weer aan al die deelnemers geskenkpakke uitdeel, terwyl ’n paar gelukkig deelnemers ook groter pryse gewen het met ’n gelukkige trekking waarvoor hulle vooraf lootjies gekoop het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button