Local sportSport

‘Moer ’n Boer 2’ lewer iets van alles in geveghok

Die hoogtepunt van die tweede ‘Moer ’n Boer’ TV-reeks, ’n gemengde gevegskuns toernooi met 14 aksiebelaaide gevegte in die geveghok, het die afgelope naweek in Pretoria plaasgevind.

Die tweede toernooi in Versus MMA se gewilde gemengde gevegskuns reeks, ‘Moer ‘n Boer’, is die afgelope naweek by die Heartveld Arena oorkant die Voortrekker Monument in Centurion aangebied.

Hierdie toernooi vorm deel van ’n omvattende werklikheids TV-reeks, wat fokus op ’n groep boere wat vir die program inskryf.

Nadat die aanvanklike groep boere wat vir die kompetisie inskryf uitgedun word en aan ander wedywering soos skyfskiet, toutrek en plaas-aktiwiteite in spanverband deelneem, word die finale groep van 28 mededingers dan betrek by die groot gevegskuns toernooi.

In 14 gevegte kom die boere dan in spanverband – Rooispan teen Blouspan – in gevegte oor drie rondtes teen mekaar te staan en geen genade word gevra of gegee nie.

Die kaartjies was uitverkoop en die Heartveld Arena se deure het reeds Saterdagmiddag teen 12:00 geopen. Ná ander vermaak soos orkeste wat opgetree het, het die eerste groep boere mekaar vanaf 16:00 in die geveghok gepak.

’n Liefdadigheidsveiling het die twee groepe gevegte van mekaar geskei en na die laaste aksie in die geveghok was daar weer vermaak in die vorm van musiek deur orkeste wat opgetree het.

Een van die interessante aspekte van die ‘Moer ’n Boer’ toernooi is dat die manne almal in Khaki-uitrustings veg. Die boere het ook almal byname, wat die reeks oor die algemeen én die aksie by die gevegskuns toernooi soveel meer interessant maak.

So byvoorbeed het Wynand Steyn, ’n skaapboer van Langebaan aan die Weskus, sy bynaam van “Piston” gestand gedoen toe hy in ’n swaargewig geveg sy teenstander, Denys Snyman, ’n neutboer van Baberton, danksy vinnige vuiste in die eerste rondte met ’n tegniese uitklophou pakslae gegee het. Die skeidsregter moes die geveg stop toe Snyman teen die einde van dié rondte gesukkel het om op sy voete te bly.

Sommer vanaf die eerste geveg van die toernooi was daar drama, toe Marinus Gouws van Brits sy teenstander, Ian Janse van Vuuren van Warmbad, met die wurggreep metode in die eerste rondte van hul geveg tot oorgawe gedwing het.

Daarna is die toeskouers vermaak met ’n verskeidenheid van metodes om die oorwinnings te eis – van gewone punte-oorwinnings tot nóg skouspelagtige uitklophoue en wurggrepe.

Uit die opkoms en reaksie van die toeskouers was dit baie duidelik dat hierdie konsep ’n wenresep is en dat die gewildheid van gemengde gevegskuns as sport by die dag steeds toeneem.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button