Garsie Bere se hoofafrigter deel sy rugbyfilosofie
Die suksesvolle afrigter van Hoërskool Garsfontein se kampioen-rugbyspanne het onlangs met Rekord gesels oor sy rugbyfilosofie en die pad wat hy geloop het om as ingenieur en sakeman ook sukses in die hoogs kompeterende skolerugby omgewing te behaal.
Dis algemene kennis dat Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan vanjaar geskiedenis gemaak het deur slegs die vyfde skool in die 105-jarige bestaan van die Noordvaal Cup toernooi te word om die titel drie jaar agtereenvolgens te wen.
Hulle is boonop die eerste skool wat dié prestasie in die nuwe millenium behaal. ’n Feit wat nie algemeen bekend is nie, is dat Garsfontein se hoofafrigter, Johan du Plessis, met hierdie presstasie self ’n paar paragrawe in die geskiedenisboeke verdien het.
Hoewel dit sy derde titel as hoofafrigter was, was dit nie sy eerste as deel van Garsies se afrigtingspan nie. Du Plessis, algemeen net bekend as Duppie, was een van die hulpafrigters toe dié skool hul eerste twee titels in 2015 en 2016 gewen het. Sover bekend is hy ook die eerste eksterne skole-afrigter (hy is nie ’n onderwyser nie) wat hierdie trofee as hoofafrigter van ’n span kon lig.
Die 49-jarige Du Plessis se pad as afrigter het sowat 30 jaar gelede begin. Soos die meeste Afrikaanse seuns van sy tyd het hy met rugby grootgeword. Hy is self ’n oud Garsie en het op skool en later as ingenieur-student aan die Tshwane Univeristeit vir Tegnologie (TUT) op vleuel uitgedraf, waarna hy sy liefde vir die spel verder as skeidsregter uitgeleef het.

Foto: Frans Lombard
Daarna het dié seun van onderwyser-ouers by Laerskool Louis Leipoldt in Centurion, asook by die Centurion Rugbyklub se Jeugklub as afrigter betrokke geraak. Ses jaar later, in 2001 is hy deur Hoërskool Centurion genader en dáár het hy by die o.14 span begin. Hy het dié groep seuns deur die ouderdomsgroepe gevat en uiteindelik in 2004 en 2005 die eerstespan afgerig wat die Stadsbeker verower het.
Toe volg twee seisoene by die Naka Bulle Rugbyklub, waar hy sy afrigtingsvaardighede verder in die Carltonbeker liga geslyp het.
In 2009 is Duppie terug na sy alma mater, waar hy by Garsies se o.14’s begin het en wéér deur die junior spanne gevorder het totdat hy in 2014 deel geword het van die skool se eerstespan bestuur. Soos die cliché lui, die res is geskiedenis.
Du Plessis se rugby filosofie is baie eenvoudig. As bedryfsingenieur werk hy in die korporatiewe omgewing as bestuurder van mense wat in spanverband saam moet werk om doelwitte te bereik. Vir hom is die bestuur van ’n rugbyspan op pad na sukses en glorie basies dieselfde.

Foto: Verskaf
Hy het die hervormingsproses van Garsies se rugbystruktuur meegemaak om die skool as een van die land se top rugbykragte te vestig. In hierdie verband het hy groot lof vir sy kollegas by die Garsie Bere, wat dié strategie beplan en gedryf het.
“Ek is omring deur die beste denkbare bestuurspan. Daar is geen ego’s nie. Elkeen van ons het sy deel wat hy bydrae om die groter geheel te laat werk,” het hy tydens ’n gesprek met Rekord vertel.
Hulle glo aan sekere ouskool beginsels wat tydloos is in rugby, soos dissipline, goeie kondisionering, harde werk en integriteit.
Wat die harde werk en voorbereiding betref, het hy ’n interessante standpunt, want hy glo oefening mag nie ’n straf wees vir die spelers nie. Dit moet lekker wees en dit moet deel vorm van die proses om kohesie te bou in die span.

“Dan het ons ook ander beginsels wat ons dalk van die res onderskei, soos om die seuns te leer om nie bang te wees om hulself uit te leef op die veld nie. As jy hard werk en goed voorberei, is daar geen rede om vrees vir mislukking te hê nie. Ek glo dis een van die groot faktore vir ons sukses en die aantreklike rugby wat ons speel,” het hy verduidelik.
Met die groot moontlikhede wat beskikbaar is vir suksesvolle rugby-afrigters, is die logiese vraag of Du Plessis groter drome het om op hoër vlakke af te rig.
“Op die oomblik is ek gelukkig by Garsies, maar ek geniet ook my my beroep. So, nee, dis nie iets wat tans deel is van my beplanning nie. Miskien verander dit later. Dalk as ek ouer is en my loopbaan in die korporatiewe sektor ook einde se kant toe staan,” was sy besliste antwoord.
Hoewel Du Plessis ’n baie besige skedule tussen sy rugby afrigting en sy korporatiwe loopbaan handhaaf, is hy ook eggenoot en pa van twee kinders. As daar tyd oor is ná al die verpligtinge, speel hy graag gholf.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
