Die Hoërskool Menlopark huldig atletiek legendes en hul rekords
Die Hoërskool Menlopark het verlede week op ’n baie unieke manier hulde gebring aan atlete, afrigters en personeellede wat oor ’n era van langer as vyf dekades ’n rol gespeel het om dié skool se status as die land se voorste atletiek-skool te vestig.
Hoewel Die Hoërskool Menlopark dekades lank al in verskeie sportsoorte uitblink, sal min atletiek kenners stry as die stelling gemaak word dat dié skool vir baie jare al uitstaan as Suid-Afrika se top atletiekskool.
Geen ander hoërskool in Suid-Afrika het skole-atletiek oor die afgelope 50 jaar op provinsiale en nasionale vlak oorheers soos die Parkies nie.
Met hierdie feit in gedagte is dit logies dat Menlopark oor die dekades heen verskeie wêreldklas atlete opgelewer het.
Een van die Parkies se groot bates oor die jare was hul bekende grasbaan, wat weens ’n spesiale soort gras uitgestaan het as ’n baie ‘vinnige’ baan waarop verskeie merkwaardige rekords opgestel is. Toe daar onlangs besluit is om die grasbaan met ’n tartan-baan te vervang, is ’n spesiale ‘groet die gras’-seremonie gehou, waartydends ’n deel van die uitgespitte gras tussen die skool se tennisbane en atletiekbaan geplant is. So is daar ’n ‘atletiek erfenis-hoekie’ geskep om die puik prestasies op dié grasbaan te herdenk.
Hierdie erfenis-hoekie is ook geleë langs ’n skietmuur, wat in onbruik verval het. Daar is toe onlangs besluit om dié muur te omskep in ’n spesiale atletiek-erfenismuur, waarop bykans 50 jaar se grasbaan rekords aangebring is om die skool en sy atlete se atletiek prestasies van die verelde te herdenk en bewaar.
Uiteindelik gaan die gedenkmuur daaroor om elke atleet, asook personeellede en atletiekafrigters wat ’n rol gespeel het in die skool se jarelange uitnemende prestasies, se bydrae op gedenkplate te verewig. Die simboliek van die atletiek-erfenismuur is om die einde van ’n era te gedenk en die begin van ’n nuwe era te vier.
Onder die atlete wat op hierdie manier vereer is tel verskeie oud nasionale- en Afrika kampioene, asook Suid-Afrikaanse en Afrika rekordhouers. Die oudste erkende rekord is dié van Claudie van Onselen (née Van Straaten), wat in 1969 ’n 100m rekord in die 100m vir dogters o.15 op Menlopark se grasbaan opgestel het.
Die inhuldiging van hierdie erfenismuur het verlede week gepaard gegaan met nóg hoogtepunte in Menlopark se atletiek geskiedenis. Na afloop van die inhuldiging seremonie is ’n middag-aand atletiekbyeenkoms aangebied, waaraan verskeie van Menlopark se buurskole deelgeneem het en waartydens die spoggerige tartanbaan se splinternuwe wêreldklas spreiligte ook amptelik in gebruik geneem is.
Atlete van die Afrikaanse Hoër Seunskool, Afrikaanse Hoër Meisieskool, Hoërskool Garsfontein, Hoërskool Waterkloof en Curro Hazeldean het aan die byeenkoms deelgeneem.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.











