Local sportSchool sportSport

Pretoria skole wys hul atletiek-krag by Curro Podium eindrondte

Die afgelope naweek se eindrondte van die gewilde Curro Podium skole-atletiek reeks het weer bewys dat Pretoria se skole nie vir enige teenstander uit die res van die land op die atletiekbaan hoef terug te staan nie.

Meer as 1500 van die land se heel beste skole-atlete uit 45 skole vanoor die lengte en breedte van Suid-Afrika het Saterdag in die Pilditch stadion in Pretoria-Wes gewys dat die land beskik oor ’n magdom van wêreldklas atletiektalent op hierdie vlak.

Die gewilde Curro Podium konsep is nou reeds gevestig onder die land se top skole. Atlete, afrigters, beamptes en toeskouers het van so ver as Kaapstad in die suide (Hoërskool Durbanville en Hoërskool Stellenberg) tot by Hoërskool Pietersburg in die noorde van Limpopo na Pretoria opgeruk om by te dra tot die skouspel in die 2026 eindrondte van hierdie atletiekreeks.

Volgens die konsep van die reeks word streeksuitdunne in twee groepe (noord en suid) in September aangebied, waarna die eindrondte dan in Februarie die volgende jaar plaasvind.

Een van die unieke aspekte van die Curro Podium konsep is ook dat daar slegs in drie ouderdomsgroepe gekompeteer word. Daar is geen o.14 en o.16 kategorieë nie, wat beteken dat 14-jarige atlete dus saam met die o.15’s deelneem, terwyl die o.16 atlete weer teen die o.17’s kompeteer.

Met skole soos Paarl Gimnasium uit die Wes-Kaap en Helpmekaar Kollege uit Johanneburg wat in hul nekke blaas, het die top deelnemers uit Pretoria dié stad se naam weer hoog gehou en vyf uit die tien top presteerders tydens die byeenkoms was plaaslike skole.

Die Hoërskool Menlopark was weer die keur onder die Pretorianers met hul vierde agtereenvolgende span-oorwinning by die byeenkoms. Die Parkies (42237 punte) is gevolg deur Helpmekaar Kollege van Johannesburg (41652), Curro Hazeldean van Pretoria (41600), Paarl Gimnasium (40830), Hoërskool Noordheuwel van Krugersdorp (40333), Hoërskool Waterkloof (39826), Hoërskool Montana (39265), Hoërskool Zwartkop (39245), Hoërskool Kempton Park (38184) en Hoërskool Nelspruit (38162).

Menlopark sou, met die oog op die komende Pretoria A-bond byeenkoms, kennis geneem het van hul vierde plek in die seuns-afdeling, waar hulle deur Curro Hazeldean (eerste), die Afrikaanse Hoër Seunskool (tweede), Helpmekaar Kollege (derde) en Paarl Gimnasium (vierde) geklop is.

Die Parkies se dogters-span was egter formidabel en het byna 700 punte voor Hoërskool Noordheuwel (tweede) geëindig. Derde was Helpmekaar Kollege, met Paarl Girls High in die vierde en die Afrikaanse Hoër Meisieskool van Pretoria in die vyfde plek.

Behalwe vir die onderskeie skole se span-prestasies het die byeenkoms uiteraard skitterende individuele prestasies opgelewer. Die goeie nuus in hierdie verband is dat Suid-Afrika vanjaar ’n baie sterk span na Wêreldatletiek se o.20 kampioenskap, wat in Augustus in Amerika aangebied sal word, kan stuur. ’n Totaal van 22 atlete het Saterdag in ’n verskeidenheid items op die baan en in velditems gekwalifiseer vir dié skouspel, wat in Eugene in die staat, Oregon, sal plaasvind.

Die kwaliteit van die atletiek by hierdie Curro Podium eindrondte word verder bevestig deur een nasionale o.18 rekord en 24 byeenkomsrekords wat verbeter is. Daarby het die room van Suid-Afrika se jong atlete daarin geslag om in 18 verskillende items prestasies te lewer wat volpunte (1000) op Atletiek SA se Athletics Performance Evaluation (APE) tabel werd is. Dié prestasie word beskou as wêreldklas.

Megan Nieman, superster hekkies-atleet van Die Hoërskool Menlopark, was een van die groot uitblinkers tydens die byeenkoms. Sy was Saterdag weer op haar allerbeste in haar gunsteling item, die 100m hekkies. Sy het dié item vir dogters o.17 gewen in ’n blitsige tyd van 13,02s. Met dié tyd het sy nie net ’n byeenkomsrekord verbeter nie, maar ook ’n nuwe nasionale o.18 rekord opgestel. Sy het volpunte (1000) op die APE tabel verdien.

Die 400m hekkies vir dogters o.17 was iets besonders en Nieman het hier ook ’n bydrae gelewer tot die opwinding. Die eerste vier atlete was almal Pretorianers. Al vier se tye was vinniger as die byeenkomsrekord en al vier het 1000 APT punte verdien. Die rekord sal egter agter Karla Bouwer (Menlopark) se naam staan, aangesien sy eerste geëindig het. Tweede was Megan Nieman (Menlopark) en Christi Loggenberg (AHMP) was derde. Hoewel Janelle Kirkpatrick (Menlopark) vierde geindig het, was haar prestasie net so besonders, aangesien sy ’n jaar jonger as die ander drie is, maar in die o.17 ouderdomsgroep deelgeneem het.

Tiisetso Malungane van Curro Hazeldean het twee merkwaardige prestasies gelewer. Dié 16-jarige seun het twee byeenkomsrekords laat spat in die 1500m (03:45,35) en 3000m (08:21,03) vir seuns o.17, terwyl hy met albei prestasies 1000 punte die APE tabel verdien het.

Dan was daar Hoërskool Montana se ster, Isabella Gunter, wat 1000 APE punte verdien het met haar nuwe rekordtyd van 53,95s in die 400m vir dogters o.17.

Menlopark se twee veld-item sterre, Jaco van Dyk en Joshua Gerber, het albei voortgebou op hul skitterende prestasies tot dusver vanjaar.

Van Dyk word eers in Mei vanjaar 16, maar hy het die gewigstoot (5kg) item vir seuns o.17 met ’n reuse nuwe rekord van 20,42m gewen, wat ook 1000 APE punte werd is.

Gerber se nuwe rekord afstand van 66,74m in die diskus item vir seuns o.17 het hom ook 1000 APE punte in die sak gebring.

Die byeenkoms is verder opgekikker met ’n paar items vir senior atlete wat deel is van die ‘Simbine Classic Shootout’ reeks. Onder hierdie items was dit veral die 600m wedloop vir vroue wat aandag getrek het. Dis gewen deur ’n oud-leerling van Die Hoërskool Menlopark, Marlie Viljoen, in ’n nuwe rekord-tyd van 01:27,25.  Sy het egter teen ’n sterk groep teenstanders gehardloop en die eerste vyf atlete het almal die ou rekord oortref.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button