Local sportSchool sportSport

Hoërskool Pretoria-Noord dra die kroon by Pretoria se C-bond atletiek-interhoër

Die Pretoria C-bond atletiek interhoër, wat Woensdag in die Pilditch stadion in die weste van die stad aangebied is, was in vele opsigte ’n unieke geleentheid, maar die aksie op die baan het steeds koning gekraai met verskeie puik prestasies deur atlete van die tien deelnemende skole.

Ná die anti-klimaks van verlede jaar, toe hul interhoër byeenkoms uitgereën het, kon die skole betrokke by Pretoria se C-bond atletiek interhoër Woensdag in sonnige weer hul stryd hervat en na ’n dag van aksie en spanning is die Hoërskool Pretoria-Noord teen laatmiddag as kampioen vir 2026 gekroon.

Hierdie interhoër byeenkoms was ’n unieke geleentheid, met tien deelnemende skole. Nadat die byeenkoms verlede jaar weens weersomstandighede gekanselleer moes word, is daar besluit dat Eduplex, wat as 2025 kampioen in die D-bond uit die stryd getree het, steeds gepromoveer sou word na die C-bond, maar daar is ook vooraf ooreengekom dat die twee skole wat vanjaar in die laaste twee plekke eindig, albei gerelegeer sal word.

As gevolg van hierdie reëling moes meer as een lopie afgehandel word in items soos die naellope en hekkies wedlope.

Nóg ’n vreemde besluit wat geneem is het sommige van Pretoria-Noord se ondersteuners warm onder die kraag gehad teen Woensdagaand. Daar is besluit dat die punte van Pretoria Boys High School en die Pretoria High School for Girls – twee onafhanklike skole – saamgevoeg sal word vir die doeleindes van promosie. Hoewel Pretoria-Noord dus die byeenkoms se kampioen was, sal dié twee enkelgeslag-skole in 2027 saam gepromoveer word na die B-bond.

Pretoria-Noord het die spankompetisie gewen met ’n puntetotaal van 2623. Dit was byna 100 punte meer as Hoërskool Wonderboom wat met 2527 tweede geëindig het. Daarna volg Hoërskool Die Wilgers (2418),  Hoërskool Hartbeespoort (2376),  Rietondale High School (2316), Hoërskool Erasmus (2011), Eduplex High School (1837), Uitsig High School (1804),  Pretoria Boys High School (1570) en Pretoria High School for Girls (1060).

Pretoria-Noord het die dogters-afdeling ook gewen, gevolg deur Wonderboom, Die Wilgers, Hartbeespoort, Rietondale, Pretroia Girls High, Erasmus, Eduplex en Uitsig.

In die seuns-afdeling het Boys High met die louere weggestap, gevolg deur Pretoria-Noord, Die Wilgers, Rietondale, Wonderboom, Hartbeespoort, Erasmus, Uitsig en Eduplex.

Altesaam 13 C-bond rekords het tydens die byeenkoms in die slag gebly.

Vyf atlete kon daarin slaag om prestasies te behaal wat 860 en meer punte op Atletiek Suid-Afrika se Athletics Performance Evaluation (APE) tabel werd is. Dié prestasies word as provinsiale standaard beskou.

In hierdie verband was Melvin Mashishi van Pretoria Boys High se skitterende tyd van 08:46,29 in die 3000m vir seuns o.19, wat 897 APE punte werd is, die beste prestasie van die dag. Mashishi het ook die 1500m item gewen in ’n tyd van 04:04,21 (853 APE punte) en dié twee prestasies het aan hom die titel as Senior Victor Ludorum besorg.

Michayla Fysh van Eduplex is as Senior Victrix Ludorum aangewys ná oorwinnings in die 100m (12,59s; 810 APE punte) en 200m (25,82s; 827 APE punte) as o.19 dogter.

Cody Benin, ’n o.15 seun van Pretoria Boys High, se tweekuns in die naellope het aan hom die titel as Junior Victor Ludorm besorg. Hy het die 100m gewen in ’n rekord tyd van 10,90s (871 punte) en sy tyd in die 200m van 22,26s (841 punte) was ook ’n nuwe rekord. Vir hierdie prestasies is hy as die beste seuns naelloper van die dag aangewys.

Die Junior Victrix Ludorum is Jean-Nika Labuschagne (o.15) van Hartbeespoort. Haar tyd in die 200m was 27,58s (771 punte) en sy het ook die 90m hekkies in 14,42s (834 punte) gewen.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button