Local sportSchool sportSport

Hoërskool Eldorainge wen Pretoria B-bond ná intense stryd teen Oos-Moot

Hoërskool Eldorainge is volgende jaar terug in die Pretoria A-bond atletiek interhoër, nadat hulle Donderdag ’n intense tweestryd met Hoërskool Oos-Moot by die B-bond byeenkoms met ‘n skrale 30 punte gewen het.

Dit was Donderdag by die Pretoria B-bond interhoër sommer vroegdag duidelik dat dié byeenkoms net een van twee wenners sou hê – Hoërskool Eldorainge of Hoërskool Oos-Moot.

Dié twee skole se atletiekspanne het reg van die begin af ’n gaping tussen hulle en die ses ander deelnemers opgebou op die puntelys en die spanning van hul tweestryd het deur die dag groter geword. Met die bekendmaking van byna elke tussentydse puntestand het dié twee skole beurte gemaak om die voortou te neem, maar nie een kon ’n voorsprong van meer as 40 punte teen die ander opbou nie.

Uiteindelik was dit duidelik dat die 4x100m aflos wedlope aan die einde van die byeenkoms die bepalende faktor sou wees. Dít is waar Eldoraigne die knoop deurgehak het, want hulle het ses van dié wedlope gewen, terwyl Oos-Moot slegs twee keer eerste oor die wenstreep kon hardloop. Die ander twee aflosse is deur Hoërskool Overkruin en Sutherland High School gewen. Eldoraigne het boonop in drie van die aflos wedlope waar hulle nie gewen het nie, wel podium plekke gekry. Dít was ook deurslaggewend.

Eldoraigne kon uiteindelik met ’n totaal van 2629 punte spog, terwyl Oos-Moot op 2599 geëindig het. Daarna volg Hoërskool Centurion (2089), Sutherland High School ( 2066), Hoërskool Overkruin (1907), Hoërskool Akasia (1829), Prestige College (1815) en Hoërskool Brits (1780).

Oos-Moot se seuns-span het die bordjies verhang en dié afdeling met ’n totaal van 1272 punte gewen. Dan volg Eldoraigne (1263), Sutherland (1104), Centurion (1034), Prestige College (1025), Akasia (946), Overkruin, (945) en Brits (763).

In die dogters afdeling het Eldorainge ook gewen met ’n totaal van 1366, gevolg deur Oos-Moot (1327), Centurion (1055), Brits (1017), Overkruin (962), Sutherland (962), Akasia (883) en Prestige College (790).

Hierdie uitslae beteken altyd vreugde en beloning vir die wenner, maar ook teleurstelling en relegasie vir die verloorder.  Terwyl Eldoraigne volgenede jaar weer saam met die groot honde van die A-bond sal blaf, moet Brits in 2027 afskuif na die C-bond.

Hoewel Brits (vir eers) van die B-bond afskeid neem, moet dié skool ’n groot kompliment kry vir die voortreflike wyse waarop hulle Donderdag se B-bond byeenkoms aangebied het. Dit het reeds verlede week begin, toe Brits – met hul adjunkhoof Jakkie Louw heel voor – die leiding geneem het om die Pilditch stadion en die aangrensende terrein skoon te maak en op te ruim, omdat dit in ’n erg verwaarloosde toestand was.

Die byeenkoms, wat in warm, sonnige toestande afgehandel is, het verskeie besonder goeie atletiek-prestasies opgelewer. Tog was dit interessant dat slegs vier nuwe B-bond rekords opgestel is, terwyl daar verlede jaar by hierdie byeenkoms 29 nuwe rekords aangeteken is.

Daar was egter geen tekort aan top-klas prestasies nie. Volgens Atletiek SA se Athletics Performance Evaluation (APE) tabel is prestasies wat meer as 960 punte verdien gelyk aan wêreld standaard, terwyl meer as 910 punte op nasionale standaard is. In terme van hierdie riglyne was daar een prestasie van wêreld standaard en drie atlete kon prestasies van nasionale standaard lewer.

Die groot ster van die byeenkoms was Roemay Korff van Oos-Moot. Dié 15-jarige atleet se skitterende tyd van 24,58s in die 200m vir dogters o.15 is 964 APE punte werd, terwyl sy ook die 100m gewen het in ’n tyd van 12,08s, waarmee sy 941 APE punte verdien het.

Ironies genoeg was nie een van hierdie tye nuwe rekords nie. Die rekords in dié twee items (11,80s in die 100m en 24,10s in die 200m) tel albei onder die oudste rekords in die B-bond en staan agter die naam van een van Suid-Afirka se beroemdste atlete van alle tye, Evette de Klerk. Sy het dié rekords 46 jaar gelede in 1980 opgestel.

Die twee ander atlete wat prestasies gelykstaande aan nasionale standaard behaal het is Kgomotso Pholoanyane en Shaun Monyake, albei van Prestige College.

Pholoanyane se nuwe rekord tyd in die 3000m vir dogters o.15 was 10:15,69, wat 925 APE punte werd is. Monyake het die diskus vir seuns o.19 gewen met ’n nuwe rekord afstand van 50,40m, wat aan hom 913 APE punte besord het.

Ten spyte van die warm weer het die ondersteuners van die agt skole op die pavljoen ook hul bydrae gelewer om tot die sukses van die byeenkoms by te dra. Die wedywering vir die geesbeker was ewe straf, maar Sutherland High School is uiteindelik as die wenner van dié gesogte trofee aangewys.

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button