Helpmekaar Kollege vryf weer hul teenstanders se neuse in die grond by “Super” interhoër
Helpmekaar Kollege van Johannesburg sit steeds op die troon as kampioen van die sogenaamde “Super” interhoër, nadat hulle Woensdag in die Pilditch stadion wéér hul uitdagers uit drie verskillende provinsies ore aangesit het.
Daar is steeds nie ’n uitdager onder die deelnemende skole van Pretoria én ander streke wat Helpmekaar Kollege van Johannesburg se atletiekspan kan klop op die atletiekbaan nie.
Dié spogskool uit die Goudstad maak reeds verskeie jare lank ’n gewoonte daarvan om te sorg dat die wennerstrofee in die spankompetisie in Groep-1 van die Wildeklawer-NWU Interhoër – die sogenaamde “Super” Interhoër – saam met hulle huis toe gaan.
Gelukkig kan Pretorianers darem spog met die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) en die Afrikaanse Hoër Meisieskool (AHMP) wat wat onderskeidelik die seuns- en dogters-afdelings kon wen. Vir AHMP (416 punte) was dit soete wraak, nadat hulle verlede jaar ná verskeie jare as wenner deur Helpmekaar se dogters onttroon is, terwyl Affies (448 punte) sover bekend ná meer as 20 jaar nog nie in die seuns-afdeling van hierdie byeenkoms geklop is nie.
In die spankompetisie het Helpmekaar met ’n puntetotaal van 783 gewen. Soos verlede jaar was Hoërskool Noordheuwel van Krugersdorp weer tweede met 679 punte. Hoërskool Waterkloof (635) het ook hul derde plek van verlede jaar herhaal en Hoërskool Zwartkop (555) het dieselfde gedoen deur wéér vierde te eindig. Hoërskool Klerksdorp (546) het een plek opgeskuif van verlede jaar, terwyl die nuweling, Hoërskool Nelspruit (522) sesde geëindig het.
Ongelukkig vir die ander deelnemer uit Pretoria, Hoërskool Garsfontein (503), sal hulle met hul sewende plek in die spankompetisie volgende jaar moet afskuif na Groep-2.
Die Garsies se plek in Groep-1 een sal volgende jaar ingeneem word deur Hoërskool Rustenburg. Die Rusties (731 punte) het Groep-2 gewen. Daarna volg Hoërskool Transvalia van Vanderbijlpark (709), Hoërskool Monument van Krugersdorp (608), Hoërskool Dr. Malan van Meyerton (663), Hoërskool Kempton Park (646), Potchefstroom Gimnasium (589), Hoërskool Wesvalia van Klerksdorp (562) en die enigste skool uit Pretoria, Hoërskool Oos-Moot (466).
Die Oosies sal dus in 2027 afskuif na Groep-3 om plek te maak vir Hoërskool Randburg, wat wat dié groep gewen het.
Met soveel top skole uit drie verskillende provinsies wat deelneem, is dit te verwagte dat verskeie wêreldklas prestasies aan die orde van die dag sou wees. Dit was ook so en behalwe vir verskeie byeenkomsrekords wat op die dag in albei die groepe aangeteken is, was daar ook een atleet in Groep-2 en sewe atlete in Groep-1 wat prestasies kon lewer wat volpunte (1000) op Atletiek Suid-Afrika se Athletics Performance Evaluation (APE) tabel werd was. Dít beteken wêreldklas vertonings.
Onder hierdie agt top prestasies was net een nie ook ’n nuwe byeenkomsrekord nie.
Kayla Holey van Helpmekaar is aan die einde van die aksie as Junior Victrix Lodorum aangewys ná drie puik prestasies in die 200m (24,68s) en verspring (5,83m en 1000APE punte) vir meisies o.14.
Die Junior Victor Lodorum is Gerhard Booysen, ook ’n Helpie. Hy het die gewigstoot (16,65m) en diskus (51,52m) vir seuns o.14 gewen.
Twee Pretorianers het met die senior toekennings weggestap.
Die Toekenning as Senior Victrix Lodorum het gegaan aan Leandri Pretorius van Waterkloof. Sy het die 800m vir dogters o.16 in ’n nuwe rekordtyd van 02:08,47 gewen, terwyl sy ook die 3000m in ’n nuwe rekord tyd van 09:38,36 gewen het. Haar prestasie in die 800m is 1000 APE punte werd, terwyl sy in die 3000m as o.16 atleet in die o.17 ouderdomsgroep meegeding het en 977 APE punte verdien het.
William de Lange van Zwartkop het die toekenning as Senior Victor Lodorum ontvang vir sy oorwinnings in die 110m hekkies (13,93s) en verspring (7,05m) vir seuns o.16.
Hoërskool Zwartkop se bestuur het daarin geslaag om binne vyf dae nadat hulle die Pretoria A-bond Interhoër op skitterende wyse aangebied het, wéér so te maak toe hulle ook verantwoordelikheid geneem het vir Woensdag se Wildeklawer-NWU Interhoër van Groep 1&2.
Vir atlete was daar lafenis met die bewolkte weer wat regdeur die dag rondom die Pilditch stadion geheers het. Hoewel ligte reën vir ’n kort tydperk teen laatmiddag uitgesak het, kon die byeenkoms ongestoord voortgaan.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


















