Local sportSchool sportSport

Garsie Bere se rugbylosie kry nuwe naam

Leon Bantjes, oud skoolhoof van Hoërskool Garsfontein wat einde verlede jaar afgetree het, is die afgelope naweek op besondere wyse vereer vir sy bydrae in die opbou van dié skool se uitstaande reputasie op die rugbyveld.

Met die atletiek interhoër byeenkomste vir hoërskole wat die afgelope twee weke afgehandel is, skuif die fokus van skolesport nou na die wintersportsoorte.

Vir die Hoërskool Garsfontein beteken dit die begin van ’n rugbyseisoen waarin hulle nuwe doelwitte kan stel, nadat die skool se eerstespan – die Garsie Bere – verlede jaar slegs die vyfde span in die 105-jarige geskiedenis van die Noordvaal Cup toernooi geword het om dié gesogte beker drie jaar agtereenvolgens te wen.

Dis egter algemene kennis dat Garsfontein tot sowat 16 jaar gelede geen behoorlike rugby-program gehad het nie en nie in staat was om teen die groot kanonne van skolerugby te kompeteer nie. Dié situasie is met ’n goed beplande strategie omgekeer, maar dit het veral momentum gekry toe Leon Bantjes in 2013 as Garsfontein se hoof aangestel is.

Bantjes is ’n rugbyman in murg en been en met hom aan die stuur van sake het die Garsie Bere ’n ware rugbykrag geword – tot só ’n mate dat hulle in 2015 vir die eerste keer die Noordvaal Cup (toé nog bekend as die Beeldtrofee) kon verower.

Dié prestasie is in 2016 herhaal en daarna was die Garsie Bere jaarliks nie net ’n kandidaat vir die Noordvaal Cup louere nie, maar is die skool ook gereeld onder kenners gegradeer onder die top 10 rugbyskole in die land.

Leon Bantjes, die oud skoolhoof van Hoërskool Garsfontein, by die amptelke naamplaat wat die nuwe naam van die skool se rugby-losie aandui. Hy het dit self die afgelope naweek onthul.
Foto: Koos Venter

Nadat Bantjes einde 2025 afgetree het, het die bestuur van die skool besluit om hom op besondere wyse te verweer. Dié eerbewys het die afgelope naweek plaasgevind tydens ’n rugbydag by die skool, wat deel gevorm het van die amptelike proewe voor die afskop van die seisoen.

Tydens ’n kort seremonie, wat deur lede van die skool se bestuursliggaam en verskeie rugby-ouers bygewoon is, is die Garsie Bere-rugbylosie amptelik na Bantjes vernoem. Dié klubhuis en onthaalarea, wat deel vorm van die skool se Sportburo en waar BBP-gaste tydens wedstryde onthaal kan word, sal voortaan as die Leon Bantjes Bere-rugbylosie bekendstaan. 

Bantjes het die geleentheid gehad om amptelik die onthulling van die nuwe naam self te behartig.

* Die Garsie Bere skop hul 2026 seisoen eerskomende Saterdag af met ’n vriendskaplike tuisbepaling teen die Jeppe High School for Boys. Daarna sal die fokus verskuif na die gewilde Noord-Suid toernooi, wat vanjaar weer by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria aangebied word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button