Hoërskool Oos-Moot se rugbyprogram lewer goeie prestasies
Hoërskool Oos-Moot se rugbyseisoen het op ’n hoë noot begin met drie spanne wat Saterdag gekwalifiseer het vir die halfeindrondte van die prestigeryke NWU Skolesportreeks.
Drie van Hoërskool Oos-Moot se rugbyspanne het die afgelope naweek gekwalifiseer vir die halfeindrondte van die NWU Skolesportreeks en hulle sal almal op 11 April teen Hoërskool Menlopark uitspeel vir plekke in die eindrondte.
Die Oosies se eerstespan, tweedespan en o.16-A span het almal eerste in hul groep geëindig.
Nadat die skool se eerstespan die toernooi afgeskop het met ’n naelskraapse nederlaag (20-21) teen Hoërskool Transvalia, moes hulle die afgelope naweek teen Hoërskool Middelburg wen én die Middies verhoed om meer as een bonuspunt te verdien om sodoende vir die halfeindronte te kwalifiseer.
Die Blou Golf, soos die span bekendstaan, het baie goed teen Middelburg begin en binne die eerste twee minute die doellyn oorgesteek.
Begeestering en oorywerigheid was waarskynlik verantwoordelik vir die Oosies se stryd om by die nuwe verskerpte laagvat-reëls aan te pas en die vier geelkaarte wat hulle in die wedstryd ontvang het – almal vir oortredings op verdediging – het hulle amper duur te staan gekom.

Foto: Koos Venter
Drie van hierdie kaarte is in die eerste helfte uitgedeel en dit het aan Middelburg die geleentheid gebied om terug te kom in die wedstryd. Ná ’n drie en ’n strafdoel het die besoekers teen rustyd met 11-7 voorgeloop.
Twee drieë binne enkele minute vroeg in die tweede helfte het die momentum laat terugswaai in Oos-Moot se guns. Nóg twee geelkaarte – een aan elke span – in die tweede helfte het die spanning laat oplaai, maar die tuisspan se verdediging het gehou, wat tot gevolg gehad dat Middelburg op hul skoppers moes staatmaak om die verskil op die telbord te probeer uitwis.
Die Blou Golf het egter vasgebyt en hul oorwinning was genoeg om vir die halfeindstryd te kwalifiseer.
– Oos-Moot se rugbyspanne het hulself sedert 2024 as deel van die Noordvaal Cup se Plaat-afdeling gevestig. Nadat hulle verlede jaar algeheel in die vyfde plek in dié liga geëindig het, mik die Oosies om vanjaar ook met so veel as moontlik spanne vir die halfeindrondtes te kwalifiseer.
Nog ’n veer in die hoed vir Oos-Moot se rugbyprogram is die feit dat hul eerste- en tweedespanne vanjaar uitgenooi is om deel te word van die gesogte Noord-Suid toernooi, wat in Pretoria aangebied word. Hoewel die meeste wedstryde op die terrein van die Afrikaanse Hoër Seunskool plaasvind, sal daar vanjaar ook by die Harlequins klub Noord-Suid aksie wees en dit is waar Oos-Moot se spanne met Hugenote Hoërskool van Wellington (Vrydag 27 Maart) en Hoërskool Strand (Maandag 30 Maart) kragte sal meet, terwyl hul tweedespan teen dieselfde skole op Affies se B-veld sal speel.






Oos-Moot se sukksesvolle rugbyprogram wek al hoe meer vertroue by borge. Dié feit word beklemtoon deur nege gevestigde besighede wat vanjaar hul gewig agter die skool se rugbyspanne ingegooi het. Borge soos Express Employment Professionals, Gys Pitzer Motoring, Arrie Nel Apteekgroep, Marvell Utillity Management, Van der Merwe Financial Services, Ida Investigation Accidents, PSB Problem Solving Bushings, Stewarts and Lloyds en die Oosie Bond help almal om die skool se spanne kompeterend te hou.
“Ons is veral besonder dankbaar teenoor die Oosie Bond vir wat hulle vir ons rugbyprogram en vir die ontwikkeling van ons fasiliteite doen,” het Braam Pretorius, Sporthoof van Oos-Moot en hoofafrigter van die eerstespan aan Rekord gesê.
Die feit dat Pretorius ook onlangs aangestel is as hoofafrigter van die Blou Bulle se o.18 Cravenweekspan en as Hoëprestasie Bestuurder van die Blou Bulle Hoërskole Rugbyvereniging, wek enorme vertroue in die bestuur van Oos-Moot se rugby.

Foto: Toné Esterhuizen/Lulu’s Sport Pics
Pretorius glo dat die hoë ligas waarin die Oosies deelneem bydra tot die vordering wat die skool maak en dat hulle stadig maar seker gewoond raak aan die standaard tussen top skole. In die NWU Skolesportreeks speel skole soos Waterkloof, Menlopark en Middelburg, wat almal ook deel is van die top Beker-afdeling van die Noordvaal Cup toernooi.
– Die Oosie Bond is ’n organisasie wat in 2022 gestig is deur Oos-Moot ouers en sakemanne uit die Moot-gebied. Dié organisasie spits hulself hoofsaaklik toe op werwing van borge en fondsinsamelings om beurse aan talentvolle kinders in alle sportkodes te kan befonds. Daarmee word die tendens dat sporttalent uit die Moot deur skole uit ander gebiede in Pretoria en selfs die groter Gauteng gebied gewerf word, teengewerk en talentvole kinders word geleenthede by Oos-Moot gebied.
Verder fokus die Oosie Bond op die bou van nuwe infrastruktuur. Dié organisasie was verantwoordelik vir die nuwe ondersteunerspaviljoen langs die skool se A-rugbyveld, terwyl ’n paviljoen vir die Oosie Bond se eie lede agter die noordelike pale van dié veld opgerig is. ’n Goed toegeruste gimnasium is ook op die sportterrein ingerig.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
