Local sportSport

Tuks onttroon Naka Bulle om nuwe Carltonbeker kampioen te word

Tuks se rugbyspan het Saterdag die kersie op die koek van ‘n skitterende seisoen geplaas toe hulle die verdedigende kampioen, Naka Bulle, in moeilike weersomstandighede in die Moot verras het om die Carltonbeker ná ’n droogte van sewe jaar weer te wen.

Ondersteuners van Tuks se rugbyspan moes lank wag, maar die wag was die moeite werd, want ná sewe droeë jare is hulle weer die Carltonbeker kampioen.

Saterdag in die Moot het die studente boonop nie net hul sewe jaar droogte in die Carltonbeker toernooi gebreek nie, maar ook die kersie op die koek van ’n uiters suksesvolle seisoen geplaas deur hul derde trofee in een jaar te wen toe hulle Naka Bulle met 26-17 geklop het. Die Carltonbeker kan nou langs die Varsitybeker én die USSA trofee in Tuks se trofeekas pryk.

Soos verwag kan word van ’n eindstryd het die aksie aanvanklik taai begin met die spanne wat mekaar deeglik opgeweeg het sonder dat enigeen ’n drastiese deurbraak kon maak. Dié wipplank-fase het die eerste kwartier van die wedstryd in beslag geneem, totdat Tuks se gevaarlike heelagter, Hopewell Ntshangase, teen die verloop van die spel die telbord aan die gang kon kry.

Met die tuisspan op die aanval letterlik meters van hul doellyn het Ntshangase ’n oorslaan-aangee van Naka Bulle se losskakel, Hansie Graaff, perfek gelees en nadat hy onderskep het kon dié spoedvraat 95 meter ver nael om onder die pale te druk sonder dat ’n vinger op hom gelê is.

Dié drie het die momentum in Tuks se guns geswaai en hul puik losskakel, Patrick Hoban, kon dit uitbuit met twee strafdoele, terwyl die sterk noord-ooste wind in sy blaaie stoot. Terloops, onthou dié naam, want ons gaan nog baie van dié 23-jarige jongman hoor. Hy het beslis die tegniese vaardighede én die temperament om provinsiale rugby te speel.

Aan Hoban se binne- en buitekant het sy skakelmaat, Akha Mjawule, asook sy binnesenter en kaptein, Kobus Janse va Rensburg, skitter vertonings gelewer wat in terme van taktiese spel goud werd was vir die studente.   

Naka Bulle het kort na Hoban se tweede stafdoel teruggeslaan met ’n kragdrie, afgerond deur agtsteman Lohan Potgieter. Toe Janse van Rensburg egter sekondes voor rustyd vir Tuks gaan druk, moes die verdedigende kampioen die tweede helfte met hul rug teen die muur begin met die telling op 20-5 in die besoekers se guns.

Met Naka Bulle wat gesukkel het om hul ritme en momentum te vind vroeg in die tweede helfte, het Hoban teen die sterk wind in nóg ses punte aangeteken met strafdoele, wat die druk verder teen die tuisspan laat opbou het.

Hoewel Naka Bulle die laaste halfuur van die aksie verskeie geleenthede gehad het om die agterstand te laat krimp, kon hulle weens begeesterde verdediging van Tuks net nie behoorlik momentum bou om die doellyn te haal nie.

Potgieter se tweede drie met 15 minute se speeltyd oor het aan die tuisskare hoop gegee, maar die horlosie het uitgeloop en dié puik agtsteman se derde drie ná die finale toeter, was maar min troos vir die verdedigende kampioen en hul ondersteuners.    

* Naka Bulle se trofeekas is darem nie heeltemal leeg na hul eerstespan se nederlaag nie. Die klub se tweedespan het hul liga gewen deur Tuks se Fezelas in die eindstryd met 34-15 te klop, terwyl hul o.20-A span ook die bordjies verhang het teen Tuks (21-20) om as die Carlton o.20 Beker-liga kampioen gekroon te word.

Centurion se derdespan is as kampioen in dié liga gekroon toe hulle in die eindstryd met 36-20 teen TUT gewen het.

In die o.20 Skild-liga het Tuks se B-span met Centurion afgereken (26-7) om as kampioen uit die stryd te tree.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button