Local sportSport

Reitz stoeiklub open hul nuwe tuiste met klubkampioenskap

’n Nuwe era het amptelik die afgelope naweek aangebreek vir die bekende Reitz Stoeiklub toe hul nuwe tuiste, ’n spoggerige nuutgeboude saal op die skoolterrein van die Hoërskool Oos-Moot, amptelik geopen is, terwyl die klub se jaarlikse kampioenskap ook aangebied is.

Die kompetisie tussen die Dicke en die Krieke vorm al langer as 50 jaar deel van die Reitz stoeiklub se jaarlikse klubkampioenskap en vanjaar kon dié tradisie vir die eerste keer in hul splinternuwe tuiste afgehandel word.

Ná baie dekades se stoeigeskiedenis en die bou van herinneringe by hul ou stoeisaal in Adcockstraat, Gezina, moes die Reitz stoeiklub onlangs tydelik na die saal van die Hervormde Kerk op die hoek van 27ste laan en Ben Swartstraat in die Moot verhuis, nadat die gebou in Adcockstraat verkoop is.

Lede van die Reitz stoeiklub se nuwe bestuur by die spesiale mat wat tydens die amptelike opening van hul nuwe stoeisaal onthul is. Van links is Piet van Rensburg, Christo Reitz, Barco Badenhorst en Donovan Davel.
Foto: Koos Venter

Intussen het die klub se bestuur hard gewerk aan die ontwikkeling van hul nuwe tuiste, ’n saal van ongeveer 900 m² op die sportterrein van Hoërskool Oos-Moot. Voordele soos die strategiese ligging van die skool, asook volop veilige parkering reg langs die nuwe stoeisaal is deel van die vooruitsigte vir groei van dié tradisieryke klub, wat vanjaar ook reeds hul 90ste bestaansjaar gevier het.

Hierdie spoggerige nuwe tuiste is die afgelope naweek amptelik geopen en die 2026 klubkampioenskap, waartydens die Dicke en die Krieke vir die eerste keer in die nuwe gebou kon kragte meet.

Die tradisie van die Dicke en die Krieke het meer as 50 jaar gelede ontstaan toe stoeiers van die klub in twee spann ingedeel is vir die jaarlikse klubkampioenskap. Die spanne is toe die Dicke en die Krieke gedoop, na aanleiding van hul onderskeie spanbestuurders, Dick Ellis en Kriek Riekert. Die tradisie is daarna jaarliks voortgesit en bestaan vandag steeds.

Ten spyte van die gure, winderige weer, het ’n groot getal stoeiers van alle ouderdomme opgedaag vir Saterdag se klubkampioenskap en daar was opwindende aksie op die stoeiemat van vroegoggend tot kort voor 13:00. Daarna het die amptelike openingseremonie van die nuwe saal plaasgevind, waartydens ’n spesiale mat ontplooi is. Dié mat, wat vir die nuwe saal ontwerp is, verwelkom lede en besoekers by die klub en sal voortaan by die ingang na die saal gebruik word.

Die Reitz stoeiklub se jaarlikse klubkampioenskap, waarydens die klub se stoeiers in twee spanne genaamd die Dicke en die Krieke ingedeel word, het deel gevorm van Saterdag se amptelike opening van hul nuwe saal op die terrein van Hoërskool Oos-Moot.
Foto: Koos Venter  

’n Nuwe bestuurstruktuur vir die klub is bekendgemaak en die name van die bestuur is aangekondig. Die stoeiers en hul gesinne het daarna gewys dat hulle nie deur faktore soos gure weer afgeskrik word nie en die braaivleisvure is aangesteek om die dag se verrigtinge af te rond.

Besoek gerus die klub se webwerf by www.reitzwrestling.co.za of hul Facebook blad (Reitz Stoeiklub) vir meer inligting of skakel Christo Reitz by 082-322-2392.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button