Local sportSchool sportSport

Prestasies by Curro Podium Noord onderstreep ontploffing van jong atletiektalent

Prestasies van wêreldgehalte was aan die orde van die dag tydens die afgelope naweek se Curro Podium Noord skole-atletiek byeenkoms op die Pilditch baan in Pretoria-Wes.

Net soos tydens die onlangse TUT Top 12 skole-atletiek byeenkoms, het die afgelope naweek se Curro Podium Noord byeenkoms weer onderstreep dat atletiekliefhebbers kookwater aksie op die atletiekbaan kan verwag in die komende seisoen.

Die byeenkoms het 49 skole uit die noordelike provinsies van Suid-Afrika in die span-afdeling geakkomodeer. In die seuns-afdeling het 59 spanne ingeskryf, terwyl 52 spanne in die dogters-afdeling meegeding het. Volgens die Curro Podium konsep sal die top skole uit hierdie byeenkoms vroeg volgende jaar aan die nasionale byeenkoms deelneem, waar die beste skole uit die suide – wat hul eie uitdun byeenkoms aanbied – dan ook sal kompeteer.

As in ag geneem word dat die meeste atlete op skolevlak die afgelope tyd hul oefenprogramme met studietyd vir eksamens moes balanseer, is die prestasies wat Vrydag en Saterdag by dié prestigeryke byeenkoms opgelewer is, merkwaardig.

Nie minder nie as agt byeenkomsrekords het gespat, terwyl 14 atlete – vyf op die baan en nege in velditems – prestasies kon opdis wat volpunte (1000) op die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel werd was. Enige prestasie van meer as 960 punte op dié tabel word beskou as wêreldklas.

In terme van span-deelname het Die Hoërskool Menlopark weer oorheers en die byeenkoms met 43331 punte gewen. Dié oorwinning was egter te danke aan hul dogters se prestasie, wat dié afdeling met ’n totaal van 22121 gewen het. Dis 1314 punte beter as hul naaste teenstander, die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, wat met 20807 punte in die tweede plek was. Curro Hazeldean het derde in die dogters-afdeling geëindig met 20750 punte.

Die Parkies se seuns (21210 punte) het tweede geëindig en is met slegs sewe punte geklop deur Curro Hazeldaen, wat die seuns-afdeling met 21217 punte gewen het. Die Afrikaanse Hoër Seunskool was derde met 20284 punte.

In die span-kompetisie is Menlopark gevolg deur Curro Hazeldean (41967 punte), Hoërskool Noordheuwel (40649 punte), Helpmekaar Kollege (40025 punte) en Hoërskool Montana (39508 punte).

Die helfte van die top 10 presteerders by die byeenkoms is Pretoria skole, terwyl die ander vyf almal uit Gauteng afkomstig is. (Sien tabel)

Toeskouers by die byeenkoms is getrakteer op ’n paar wêreldklas vertonings en in hierdie verband kon dit nie beter as die skouspel in die 100m hekkies item vir dogters o.17 nie. Drie plaaslike atlete – twee uit dieselfde skool – het die toeskouers op hul voete gehad toe hulle skouer-aan-skouer drie wêreldklas tye in een item aangeteken het. Megan Maree van Hoërskool Garsfontein het boonop verras deur haar twee teenstanders van Die Hoërskool Menlopark, die Afrika rekordhouer, Megan Nieman en die SA o.17 kampioen, Janelle Kirkpartick, te klop. Maree se tyd was 13,25s (984 APE punte), terwyl Nieman tweede geëindig het in 13,33s (975 APE punte) met Kirkpatrick derde in 13,35s (973 APE punte).

In die gewigstoot item vir seuns o.17 het drie seuns ook ’n merkwaardige prestasie behaal deur aldrie volpunte (1000) op die APE tabel te verdien.  Darius Botha van Hoërskool Dr. Malan in Meyerton het die boonste trap op die podium verdien deur die 5kg gewig 19,81m ver te stoot, terwyl Affies se Dewaldt Roodt die silwer medalje ingepalm het met sy poging van 19,72m en Jaco van Dyk van Menlopark was derde met ’n beste poging van 19,60m.

Johanne Lamprecht van Montana het ook die oë laat rek met haar wenpoging van 16,92m in die gewigstoot item vir dogters o.17. Dit was ook 1000 APE punte werd.

Nog ’n atleet wat die kollig op hom laat val het was Leandro Delport van Hoërskool Waterkloof, wat die verspring vir seuns o.19 met ’n nuwe rekord afstand van 7,77m (1000 ATP punte) gewen het.

Die grootste ster van die byeenkoms was waarskynlik die 13-jarige Bintou Camara van Curro Hazeldean. Sy het beide die naellope vir dogters o.15 gewen en dit was veral haar nuwe rekordtyd in die 200m van 23,91s (1000 APE punte) wat uitstaan. Sy het die 100m ook in ’n rekordtyd van 11,82s (988 APE punte) gewen en is as top junior dogters-baanatleet van die byeenkoms aangewys.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button