Afri-Indie-wenner bereik nuwe hoogtepunt
'n 24-jarige liedjieskrywer en klavieronderwyser van die Moot vier hierdie week ’n belangrike mylpaal wanneer haar eerste vyf oorspronklike enkelsnitte amptelik bekendgestel word.
Vir Lizl Simoes is musiek meer as net klanke, melodieë en lirieke. Vir die Moot-musikant is musiek ’n manier om iets van haarself met ander te deel en, waar die wêreld soms oorweldigend donker en neerslagtig voel, ’n bietjie lig te bring.
Die 24-jarige liedjieskrywer en klavieronderwyser vier dié week van die 23ste September ’n belangrike mylpaal wanneer haar eerste vyf oorspronklike enkelsnitte amptelik bekendgestel word.
Die ATKV-Crescendo-opnamekunstenaar se vertoning, Kinders van die Lig, vind op 23 September by die Centurion Teater plaas. Die aand word verder ingekleur deur die gaskunstenaar Joshua na die Reën.
Simoes het die afgelope jaar vinnig haar plek in die Afrikaanse musiekbedryf begin vind.
Haar debuutenkelsnit, Muurblom, het radiolugtyd op verskeie stasies ontvang en sy het onlangs die Afri-Indie-toekenning vir Beste Nuweling gewen. Sy het ook saam met gevestigde kunstenaars soos Karin Hougaard, Anna Davel, Ilse Klink, Stephanie Baartman, Andriëtte Norman en Gracia Louw by GOUD: Divas van Afrikaans opgetree.
Tog lê die hart van haar nuwe werk nie in erkenning of verhoogglans nie, maar in iets wat vir haar veel meer persoonlik is: hoop.
Volgens Simoes is dit moeilik om nie beïnvloed te word deur die voortdurende stroom van negatiewe nuus en inhoud op sosiale media nie.
“Dit is aanhoudend en dit laat alles so swaar voel,” sê sy. Sy het toenemend bewus geword van hoeveel mense met angs, depressie en moedeloosheid worstel.
Vir Simoes is die keuse om meer optimisme te versprei, egter nie ’n eenvoudige besluit om altyd positief te wees nie. So ’n lewenshouding verg volgens haar ’n bewuste verandering in perspektief.
Daardie ingesteldheid is verweef met haar geloof, wat volgens haar ’n sentrale rol in haar musiek speel.
Haar liedjies is gevolglik persoonlik. Sy skryf oor haar eie tekortkomings en oorwinnings, met die hoop dat iemand anders hom- of haarself daarin sal herken.
Haar ingesteldheid teenoor skryf sluit aan by haar groter liefde vir stories.
Sanger en liedjieskrywer, Jacques de Villiers, het Simoes beskryf as iemand wat lirieke weef wat stories vertel, ’n beskrywing wat sy as ’n groot eer beskou.
“Ek was nog altyd lief vir ’n goeie storie hetsy ’n boek of ’n film. Daar is net iets wonderliks daaraan om jouself in ’n goeie storie te verloor,” sê sy.
Vir Simoes is dit belangrik dat haar musiek nie net haar eie verhaal vertel nie, maar ruimte laat vir ander mense se stories.
“My lirieke is my storie, en ek probeer glad nie om terug te hou nie,” sê sy. “Dit is vir my ongelooflik belangrik dat iemand hul eie verhaal in my musiek kan vind.”
Sy glo dat moeilike onderwerpe nie noodwendig vermy moet word nie.
“Ons het so baie onderwerpe taboe gemaak en dit kan mense vervreem en voel asof hulle in hul eie hoekie leef.”
Haar boodskap is eenvoudig: mense hoef nie alleen deur moeilike ervarings te gaan nie.
“As ons almal daardie ongemaklike dele van onsself kan herken en erken, kan ons mekaar ook help en sê ‘jy is nie alleen nie’.”
Musikaal is Simoes intussen besig om haar eie identiteit te ontdek. Van Muurblom tot Ek Wens en nou Kinders van die Lig het haar toenemende optredes haar ook meer selfvertroue gegee.
Sy beskryf haar klank as eg ‘Lizl’ en sê haar liefde vir verskillende genres, akkoordprogressies en teksture beïnvloed haar musiek.
Kreatiwiteit en ’n bereidwilligheid om nuwe dinge te probeer, is volgens haar belangrik.
Die Afri-Indie-toekenning het intussen vir haar nuwe moed gegee. “Dit het beslis net vir my bevestig dat ek op die regte pad is,” sê sy.
Haar reis met ATKV-Crescendo het volgens haar dié ontwikkeling van haar loopbaan verder ondersteun. Die praktiese aard van die program het haar ’n blik op die musiekbedryf gegee wat moeilik in ’n klaskamer geleer sou kon word.
“Die musiekbedryf lyk so ontoeganklik en die Crescendo-span doen baie goeie werk om die wêreld op ’n praktiese manier vir ons oop te maak.”
Wanneer sy oor vyf jaar terugkyk, hoop Simoes dat haar naam en musiek steeds met lig en hoop verbind sal word. “My grootste hoop en wens vir my loopbaan is om deur my musiek mense te inspireer en ook daardeur na die Lig te wys.”
Vir haar is dit uiteindelik waaroor die musiek gaan. “Hy is my grootste inspirasie, my anker, en die rede dat ek sing.”
– Kliek hier om na Kinders van die Lig te luister:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
