Nuwe avontuur vir gestremde hengelaars by Ramcat Fishing se hengelfees
Die jaarlikse Ramcat Fishing hengelfees is verlede week in die Centurion omgewing naby Midstream aangebied en gestremde hengelaars het weer van heinde en ver gereis om lyne nat te maak en as geesgenote saam te kuier, terwyl hulle langs die viswater bederf is.
Getroue deelnemers aan Ramcat Fishing se jaarlikse hengelfees vir gestremdes kon vanjaar weer ’n nuwe avontuur aanpak toe dié spesiale geleentheid vir die 14de keer aangebied is.
Nadat die eerste 12 hengelfeeste van Ramcat Fishing by die dam van die Irene Counrty Lodge aangebied is, moes die organiseerders noodgedwonge verlede jaar ’n nuwe terrein vind waar die gestremde hengelaars die katrolle kon laat sing. Daar is verlede jaar na die dam op die terrein van die Zonderwater Gevangenis oos van Pretoria uitgewyk, maar vanjaar was die gestremde hengelaars terug in die Centurion omgewing.
Hierdie keer het die rolstoel-hengelaars en ander gestremdes byeengekom by die Prime View Adventure & Leisure oord in Rantjiesfontein, net suid van Midstream in Centurion.
Deelnemers en hul helpers is oudergewoonte reeds vroegoggend net na registrasie met ontbyt bederf, waarna die stokke gereedgemaak is en die lyne ingegooi is om dié dam se babers en karps aan die hoek te probeer kry.

Foto: Koos Venter

Foto: Verskaf

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter
Die gewildheid van hierdie hengelfees is weer bewys deur die feit dat deelnemers van heinde en ver gekom het om in die dag se opwinding en samesyn te deel. Daar was selfs vier deelnemers van die Remme-Los Selfhelp Sentrum vir gestremdes in Primrose aan die Oos-Rand, wat met ’n spesiaal geborgde bussie opgedaag het vir die dag se feesvieringe.
Een van die veterane van Ramcat Fishing se hengelfeeste, Douglas Borman, was die gelukkige hengelaar wat die eerste vis kon uittrek. Hiervoor het hy ’n spesiale geskenkbewys ontvang.
Dewald Cloete, een van die gehoorgestremde deelnemers, het uiteindelik die grootste vis – ’n knewel van ’n baber – gevang.

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter
Ramcat Fishing het oor die jare ook ’n tradisie ontwikkel om ’n spesiale krans op die dam waar die fees plaasvind te lanseer ter herdenking aan getroue ondersteuners van die organisasie wat in die voorafgaande jaar oorlede is. Johan Cilliers, een van die eerste deelnemers aan Ramcat Fishing se hengelfeeste, is as dienspligtige in die weermag beseer en sodoende het hy in ’n rolstoel beland. Hy is verelde week só vereer, nadat hy enkele maande na verlede jaar se fees ná ’n kankerstryd gesterf het.
Spesiale hulde is ook vanjaar gebring aan nog een van die Ramcat Fishing hengelfees se getrouste deelnemers, Johan Crouse, wat ’n paar dae voor die fees sy 74ste verjaardag gevier het. Hy is nog een van die oorspronklike deelnemers wat as dienspligtige beseer is en daarna gestremd geword het.
Deelnemers is deur die loop van die dag ook bederf met soetgoed, wat spesiaal vir die geleentheid gebak is deur Caitlynn Pieterse, ’n graad 10 skolier van Hoërskool Zwartkop. Sy is bygestaan deur haar ma, Janine.
Ná ’n heerlike middagete was dit weer tyd vir ou vriende om mekaar te groet tot volgende jaar, maar eers is al die gestremde deelnemers oudergewoonte bederf met geskenke en skenkings wat jaarliks deur Ramcat Fishing se vriende en borge verskaf word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
