Somer sportfees vir skole brei uit na Pretoria
Die sukses van die Six Gun Grill Somer Sportfees in die Wes-Kaap het die organiseerders oortuig om dit na die noorde uit te brei en die eerste weergawe in Gauteng sal vroeg in Desember by Hoërskool Montana in die noorde van Pretoria aangebied word.
Georganiseerde skolesport in Desembermaand is nie iets wat in die noorde van die land bekend is nie, maar as die organiseerers van noordelike weergawe van die Six Gun Grill Somer Sportfees Noord hul sin kry, sal dié konsep in die toekoms ’n jaarlikse instelling word.
Hierdie somer sportfees is reeds in die Wes-Kaap gevestig en word vanjaar weer vir die derde jaar agtereenvolgens by Hugenote Hoërskool in Wellington aangebied.
Die organiseerders van die sportfees het dié konsep nou ook na die noorde gebring en met die hulp van borge soos Six Gun Grill en Stadio sal die eerste Six Gun Grill Somer Sportfees in Gauteng van 2 tot 8 Desember op die sportterrein van Hoërskool Montana aangebied word.
Terwyl dié sportfees in die Wes-Kaap reeds gegroei het tot byna 3000 deelnemers uit 110 deelnemende skole, het die organiseerders aaangekondig dat ten minste 55 spanne, wat skole en enkele klubs insluit, reeds hul deelname by die fees in die noorde bevestig het. Daar word gereken dat sowat 2000 skoliere deel van die aksie sal wees.
Skole vanuit al die noordelike provinsies, asook deelnemers uit Namibië, sal na die noorde van Pretoria reis vir die fees.
Die fees sal laer- en hoërskole akkomodeer en sportsoorte soos rugby, netbal, hokkie, tennis, krieket, karate en skaak sal deel van die program uitmaak.
“Ons was besonder beïndruk met die fasiliteite by Hoërskool Montana en het onmiddelik besef dat dit die ideale terrein is om ons noordelike somer sportfees te vestig,” het Duitser Bosman van Duitser Bosman Sport, wat die organisering van die sportfees behartig, tydens die bekendstellig van die fees gesê.
Bosman was veral ingenome met die feit dat sportsoorte soos rugby, hokkie en tennis onder beligting sal kan plaasvind, wat beteken dat die sportfees se program daagliks tot 20:00 kan duur.
Volgens Bosman het tye verander en daar bestaan weens verskeie redes ’n behoefte om skolesport in Desembermaand aan te bied.
“In sommige sportsoorte kan die fees gebruik word vir voorbereiding vir die nuwe jaar, terwyl ander sportsoorte die fees as proewe kan gebruik om hulle ’n voorsprong te gee op hul beplanning in die nuwe jaar,” het hy verduidelik.
Die organiseerders glo ook dat minder mense deesdae die volle Desembermaand langs die kus deurbring en hierdie sportfees kan help om skoolkinders as deelnemers of as toeskouers besig te hou in die eerste deel van die somervakansie.
Kaartjies vir die fees is aanlyn beskikbaar by https://summerfestival.co.za .
Do you have more information about the story?
Please send us an email to bennittb@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram