EntertainmentLifestyle

Pierneef-teater vier 11de verjaarsdag

Konsert-hou was die perfekte resep om dié teater se verjaarsdag te vier.

Die geliefde Pierneef-teater het die afgelope week sy 11e bestaansjaar gevier met ’n vertoning deur Mathys Roets wat die teater in 2003 geopen het.

Roets wat die bekendstelling van die teater 11 jaar gelede behartig het, het jaarliks teruggekeer om die teater se verjaarsdag te vier.

Hy het verlede Dinsdag weer uit oudergewoonte die gehoor met sy musiek betower.

Nettie Grobler, van Clairemont het vertel sy het die eerste vertoning 11 jaar gelede, op 26 Maart 2003 bygewoon.

“Ek het vir Roets die eerste keer hier gesien en sedertdien is ek ’n groot aanhanger van hom en die teater.”

Grobler het gesê wat sy van die eerste vertoning geniet het is die teater se klein en intieme atmosfeer.

Die Pierneef-teater loop vir 11 jaar die pad saam met Hoërskool Hendrik Verwoerd. In dié tyd het die teater uit sy kinderskoene gegroei tot ’n teater wat nie slegs in Pretoria nie, maar ook landwyd onder kunstenaars bekend geraak het.

Jopie Koen, stigter en bestuurder van die Pierneef-teater, het gesê hoewel bekende kunstenaars by die teater optree, staan die teater se deure ook oop vir jong kunstenaars aan die begin van hul loopbane.

“Menige jong kunstenaar wat later bekend geraak het, het sy of haar eerste optrede hier op die verhoog beleef,” het Koen gesê.

Buiten die gewone teaterproduksies, lê die Pierneef-teater ook klem op kinderteater asook dagkonserte. Daar is elke vakansie kinderteaterproduksies in die oggende en soms ook op Saterdae buite vakansies.

“Hiermee gaan dit vir die teater nie slegs om vermaak vir die kleingoed nie, maar ook om ons volgende geslag volwasse teatergangers te kweek,” het Koen gesê.

Navrae: E-pos: info@pierneefteater.co.za

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button