Tiekiedraai vir ‘n eeu lank
Die Afrikaanse Volkspele Beweging vier vanjaar hul 100ste bestaansjaar en beoog om dit die makietie van die jaar te maak.
Die viering van die Afrikaanse Volkspele se 100e bestaansjaar komende naweek by Serengeti-landgoed, Kempton Park, beloof om die makietie van die jaar te wees.
Die Afrikaanse Volkspelebeweging wat in 1914 tot stand gekom het, sal tydens die feesvieringe herdenk word vir 100 jaar se genot en kultuur wat dit met die Afrikaanse volk meegemaak het.
Reeds die Vrydagaand is daar ’n heerlike mengelmoes van kleur en klank met die Internasionale Kultuur Dans-aand waar volkspelers saam met ten minste tien ander groepe toeskouers gaan vermaak.
Dansskole regoor Gauteng doen moeite om jongmense die oorspronklike dansvorms te leer en Vrydagaand sal baie lande se hedendaagse volksdanse optree, insluitend die Skotse Country dansers, die Grieke, die Iere en die Serbiërs.
Saterdagaand is dit die volkspelers se beurt met ’n feessaamtrek. Alle oudvolkspelers en vriende word genooi om saam te kom speel en sing. Dit is ook ‘n ideale geleentheid om die kleinspan te wys wat volkspele is, hoe om te tiekiedraai, polka en masurka op die maat van pragtige Afrikaanse volksliedjies.
En as dit nog nie die voete losgemaak het nie, sal die koorbelaaide erediens Sondagoggend 10:00 net die geleentheid wees om saam met die volkspelers van Gauteng hul 100e bestaansjaar te vier. Hierdie geleentheid is ook oop aan die publiek.
Kaartjies sal by die deur beskikbaar wees, maar verseker ‘n plek deur met annabe@absamail.co.za te reël. Toegang vir Vrydagaand is R30 per persoon en Saterdagaand R15 per persoon. Verrigtinge begin om 19:30.

