Steve Hofmeyr amper ‘n RSG-omroeper
RSG aanbieders het luisteraars uitgevang op Gekkedag en lekker gelag.
Menige luisteraar se bloed het Woensdagoggend gekook toe Radio Sonder Gense (RSG) doodluiters aankondig dat die omstrede sanger Steve Hofmeyr die veteraan-radio-omroeper Cobus Bester se aanbiederstoel op Monitor en Spektrum gaan oorneem.
Anita Visser, wat vir jare Bester se mede-aanbieder was, het die aankondiging net na 06:00 gedoen en die luisteraars inglig dat sy so 6: 45 ‘n onderhoud met Hofmeyr gaan doen. Sy het dit op haar professionele manier gevoer; sonder om te giggel of ‘n oog te knip.
Selfs deurwinterde joernaliste en Hofmeyr-kritici het onmiddellik op sosiale media begin galbraak oor die “lawwe besluit” van RSG.
Ja, hulle (en die publiek) het elke woord geglo wat uit Visser se geloofwaardige mond gekom het.
“Ek gaan my musiekloopbaan drasities afskaal,” het Hofmeyr gesê. “Ek los die objektiwiteit vir joernaliste. Ek gaan omstrede onderwerpe aanraak. Ek kan nie verstaan waarom RSG soms ‘n onderhoud met ‘n opera-sanger doen, terwyl daar ‘n moord gepleeg word nie.”
Hy het ook ‘n klap na Bester, wat na 36 jaar by die SAUK aftree-ouderdom bereik het, uitgedeel. “Cobus se Afrikaans is ook so formeel en outyds, maar ek kan dit verstaan as iemand nog uit die Romeine-tydperk kom.”
Visser het nog ewe geantwoord dat sy daarna uitsien om die stoel met Hofmeyr te deel.
SMS-boodskappe het begin instroom en sommige luisteraars het reguit gesê dat hulle nie Hofmeyr se geradbraakte Afrikaans duld nie en die stasie sal boikot.
“Dit is nou jammer,” het die joernalis Izak du Plessis gesê. “Ek hoop nie julle gaan regtig die stasie boikot nie.”
So ‘n paar minute later het die aanbieders, dik van die lag, gebieg: “Dit is net ‘n gekkedaggrap.”
“Ha-ha, dit was vreksnaaks,” het Du Plessis aan Rekord ge-WhatsApp.
April-gekkedag is ‘n tradisie waar mense jaarliks op 1 April poetse bak en met mekaar die gek probeer skeer. Die doel is om niksvermoedende vriende en familie te probeer uitvang. Verskeie koerante en radiostasies skeer ook jaarliks op die dag met hulle luiseraars en lesers die gek.
Luidens die internet-ensiklopidie, Wikipedia, is dit nie duidelik waar gekkedag vandaan kom nie. Volgens sommige bronne het die poetsdag in 1582 ontstaan toe pous Gregorius XIII die Georgiaanse-kalender as die amptelike kalender in Frankryk ingestel het.
Voor die gebeurtenis het die Franse die dag as die eerste dag van ‘n nuwe Europese-jaar beskou en het gewoonlik vir tien dae aanmekaar feesgevier. Baie Franse het nie geweet van die verandering nie en het net voortgegaan met hulle feesvieringe. Hulle het as April-gekke bekend geraak.
Het jy vandag iemand ‘n poets gebak? Vertel ons daarvan.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.
