Musiekvideo vir Vir Altyd se temalied bekendgestel
Donnalee Roberts en Ivan Botha het Maandagoggend die musiekvideo vir hulle nuwe rolprent Vir Altyd bekendgestel.
Die vervaardiger-en-akteurspan, Donnalee Roberts en Ivan Botha, het Maandagoggend bekend gemaak dat Joshua na die Reën die temalied vir hul nuutste rolprent Vir Altyd sing.
Hulle het ook die afgelope naweek ‘n musiekvideo vir die liedjie op YouTube gelaai.
Joe Foster, ‘n voormalige lid van die groep Adam, het verlede jaar ‘n oornagsukses geword nadat hy die temalied vir Pad na Jou hart gesing en geskryf het.
Die liedjie is tot vervelens toe oor radiostasies gespeel en is ook genomineer vir ‘n Huisgenoot Tempo-toekenning.
Vir Altyd is Roberts en Botha se tweede romantiese avontuurfliek en tonele is onder meer in Mauritius en Paarl verfilm.
Roberts vertolk die rol van Nina en Botha dié van Hugo.
Ander bekende akteurs in die rolverdeling sluit in Dirk Stoltz, Illse Roos, Elize Cawood, Hélène Truter en Wilson Dunster, André Stoltz en Geon Nel.
Sean Else se oudste seun, Caylem, speel die jonger Hugo. Hy was voorheen ook in Konfetti te sien.
Die rol van die jonger Nina word vertolk deur Nicky de Kock.
Nina is ’n jong meisie wat in die Paarl in ’n taamlik welaf familie groot geword het en sy is die eienares van ‘n boekwinkeltjie by die Taalmonument.
Sy is ook ’n skilder en sy droom nog altyd daarvan om haar eie sprokiesdag te hê en haar eie sprokiesboek te skryf. Sy staan op trou met haar sprokiesman, maar hy los haar voor die kansel.
Hugo is ’n internasionale reisfotograaf wat al oor die wêreld heen gereis het, keer ná tien jaar, op die vooraand van Nina se troue, terug na die Paarl.
Die rolprent word 12 Februarie landwyd uitgereik.
Kyk hier na die video:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
