KOMPETISIE: Nataniël praat oor sy vertoning by Aula in April
Staan 'n kans om kaartjies na Classic Nataniël en sy nuwe Edik van Nantes kookboek te wen.

April is ’n opwindende tyd vir Nataniël-liefhebbers. As jy lus is vir een van sy eiesoortige, flambojante en besonderse vertonings, kan jy nie Classic Nataniël misloop nie.
“Classic Nataniël is ’n baanbreker-optrede wat Pretorianers omkant gaan vang. Die grootste uitdaging sal wees om ’n pop-kwartet, ’n strykkwartet, ’n koor (Tuks Camerata) en ek – meer as 100 mense sonder ’n dirigent – soos ’n perfekte eenheid moet klink, maar ek het dit al voorheen so gedoen, dis net goeie konsentrasie,” verduidelik Nataniël aan Rekord.
Classic Nataniël sal by die Aula op die Universiteit van Pretoria se gronde plaasvind op Sondag, 14 April. Dit sal die eerste keer in vyf jaar wees wat hy by die Aula optree.
“Die Aula is die enigste venue in Pretoria wat reg is vir hierdie tipe vertoning; dis al gedoen in die Sanlam Ouditorium in Potchefstroom en die Operahuis in Kaapstad. Daar moet genoeg plek en genoeg beligting wees. Ek het ’n lang geskiedenis met die Aula,” sê hy verder.
Oor verhoogvrees kan jy Nataniël niks vertel nie.
“Ek wil altyd huil en weghol, ek is altyd gespanne voor die tyd, maar ek doen joga en asemhaling om te kalmeer. Ek praat ook vir die uur voor ek opstap met niemand,” sê hy.
Classic Nataniël stel hom in staat om die verhoog te deel met ’n klompie ander talentvolle mense, waar talle gewoond is aan Nataniël – die gewilde een-man talent.
“My band bestaan uit Charl du Plessis, Juan Oosthuizen, Werner Spies en Peter Auret, daar is ook die strykkwartet, vier sexy vrouens in swart pakke en dan die koor – dit gaan fantasties wees.”
Behalwe vir die feit dat hy vanjaar van ’n unieke lokaal, ’n hele koor en ander musikante gebruik maak, spog Nataniël met die diverse musiekstyl en invloede van Classic Nataniël.
“Ons doen nie net klassieke musiek van my gunstelingkomponiste nie, ook classics uit die wêrelde van pop en blues en jazz en gospel en sigeunermusiek,” sluit hy af.
Indien jy kaartjies wil koop om Classic Nataniël by die Aula op Sondag 14 April om 16:00 by te woon, besoek gerus Computicket vir meer inligting.
KOMPETISIE:
Rekord het twee dubbelkaartjies om weg te gee na Classic Nataniël. Om in te skryf, vul in die onderstaande vorm en gebruik ‘Classic Nataniël’ as die sleutelwoord.
