Opvolgfilm lok honderde in pyjamas na Pretoria-teaters
Fliekgangers getoë in pyjamas en pantoffels het in Pretoria saamgetrek vir die vertoning van The Devil Wears Prada 2 ten bate van Solidariteit Helpende Hand se Bemagtig-’n-Kind-projek. Die opvolgfilm bring nostalgie, modeglans en sterk vertolkings terug na die groot skerm.
Meer as 500 fliekvlooie in sagte pyjamas, kleurvolle japonne en wollerige pantoffels het op 6 Mei in Pretoria se filmteaters ingeskuifel.
Dit was ’n aand van hoogmode en springmielies toe The Devil Wears Prada 2, as deel van Solidariteit Helpende Hand en hul vennote Goedvoel Media se Bemagtig-’n-Kindprojek, vertoon is.
Twintig jaar nadat Miranda Priestly met ’n onverbeterlike Meryl Streep in die rol, die eerste keer met haar ysige blik en snydende opmerkings die modewêreld oorheers het, keer die opvolgfilm terug na die glans van New York en Milaan.

Daar is genoeg styl in die film om selfs die mees kritiese mode-aanhanger stil te maak en genoeg couture-drama om modeslawe op hul potlooddun hakke te laat wankel van opgewondenheid.
Hoeveel films kan met ’n toneel afskop van ’n modediva in ’n knalrooi Balenciaga-rok met ’n sjiek paar rooi skoene wat uit ’n voertuig klim en dadelik filmkykers in diep drama intrek?
Hierdie toneel skep geen valse verwagtinge nie want die opvolgfilm slaag daarin om die oorspronklike ikoniese film se bekoring te behou, sonder om bloot ’n herhaling daarvan te wees.
Waar baie opvolgfilms vasval in goedkoop nostalgie, gebruik hierdie film die verlede van die karakters en storielyn slim as ’n basis waarop nuwe stories gebou word.
Streep bewys weer waarom sy as een van Hollywood se invloedrykste akteurs beskou word. Haar Miranda Priestly-vertolking is steeds yskoud, intimiderend en meesterlik berekenend, maar hierdie keer word daar meer van haar menslikheid en onsekerhede ontbloot.

Die mediawêreld het verander, tydskrifte veg vir oorlewing en selfs ’n mode-ikoon soos Miranda moet nou aanpas by bestuurskonsultante, korporatiewe beleide en personeelafdelings wat haar woorde tot haar ontsteltenis monitor.
Een van die film se snaakste elemente is juis Miranda se nuwe assistent wat haar konstant moet keer om opmerkings te maak wat teen moderne korporatiewe sensitiwiteitsreëls indruis.
Die spanning tussen Miranda se ou-skool hardebaardstyl en die nuwe politieke korrektheid sorg vir baie van die film se skerper humor.
Hoewel die brutaal skerp satire van die oorspronklike film effens versag is, word dit vervang met slimmer, meer subtiele nuanses oor die moderne werksplek en mediabedryf.
Anne Hathaway keer terug as Andy Sachs, nou ’n gevestigde joernalis en onlangs aangestelde hoof van die tydskrif Runway se spesiale artikels. Hathaway bring ’n meer selfversekerde en volwasse Andy na die skerm, maar behou steeds die karakter se bekende warmte.
Emily Blunt steel egter menige toneel as die venynige Emily Charlton, wat nou Dior se Amerikaanse bedrywighede bestuur. Blunt se droë humor en foutlose tydsberekening sorg vir van die film se grootste lagoomblikke, maar ook sy het ’n sagte kant wat na vore kom.
Bedrewe akteur Stanley Tucci se mode-redakteur Nigel bly ’n hoogtepunt. Sy karakter bring steeds balans tussen die drama, mode-waansin en emosionele oomblikke. Die aantrekkingskrag tussen veral Streep en Tucci se oorspronklike rolverdeling voel natuurlik en gemaklik, asof die 20 jaar tussen die twee films eenvoudig verdwyn het.

Die romantiese storielyne is egter waarskynlik die swakste deel van die film.
Andy se verhouding met ’n Australiese eiendomsmagnaat, vertolk deur Patrick Brammall, voel vlak en sonder werklike emosionele vonke.
Miranda se verhouding met haar nuwe metgesel, gespeel deur Kenneth Branagh, verdwyn meestal in die agtergrond sonder veel impak.
Maar eerlikwaar, niemand gaan kyk The Devil Wears Prada 2 vir ’n diepsinnige liefdesverhaal vol sonsondergangoomblikke nie.
Die hart van die film bly steeds mode, ambisie, identiteit en die dinamika tussen sterk persoonlikhede.
Visueel is die film ’n kinematografiese kragtoer. Hierdie is nie ’n film wat op ’n klein skerm gesien moet word nie. Die stede New York en Milaan is karakters op hul eie. Die bruisende energie in die strate, eksklusiewe modevertonings, luukse restaurante en minimalistiese kantore skep ’n wêreld waarin glans en energiedrankies hand aan hand loop.
Die kamera sweef deur modehuise, glansgeleenthede en rooi tapyt-oomblikke met dieselfde selfvertroue as Miranda Priestly in haar glanspakkies met hul wye rompe.
En dan natuurlik die mode self: Die kostuums is eenvoudig asemrowend. Andy se ikoniese blou trui uit die eerste film maak ’n slim en moderne terugkeer, hierdie keer stylvol by ’n broek ingesteek soos sovele modebeïnvloeders aan die hand doen.
Miranda se dramatiese tosselbaadjie bevestig weer haar status as modekoningin terwyl sy vir die eerste keer haar weg na die werkkantien vind.
Maar een van die mooiste uitrustings in die film is Andy se laslappiepatroon maksirok tydens ’n middagete-toneel in die Hamptons.

Die musiek verdien ook spesiale vermelding. Theodore Shapiro se klankbaan dra die emosionele onderbou van die film uitstekend, terwyl Lady Gaga se bydraes ekstra energie gee.
Haar eindkredietballade Glamorous Life sluit die film perfek af met ’n gevoel van nostalgie en triomf.
Wat hierdie opvolgfilm besonders maak, is dat dit nie probeer om die oorspronklike te oortref nie. Dit bou eerder voort op karakters wat ouer, wyser en effens sagter geword het, sonder om hul kern te verloor. Selfs kykers wat nog nooit die eerste film gesien het nie, sal die storie maklik kan volg en die karakters geniet.


The Devil Wears Prada 2 is gemaklike kykgenot met genoeg humor, styl en emosie om jou vir meer as twee ure volledig in die modewêreld in te trek.
Dit is seldsaam dat ’n opvolgfilm ná twee dekades steeds vars en relevant voel, maar dié film kry dit reg. Dit bly een van die beste opvolgfilms in ’n lang tyd en beslis die moeite werd om jou pyjamas aan te trek, jou springmielies nader te trek en jou beste voet in jou pantoffels voor te sit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook onsFacebook,TwitterenInstagramenTikToken WhatsApp Channel
