Local Lifestyle

Jong meisie (10) se sangdrome kry vlerke

Elduné Ebersohn (10) sien uit om saam met haar koormaats van die Magaliesberg Kinderkoor volgende jaar in Spanje op te tree.

Sy het gesing lank voordat daar ’n koor, A++-sertifikaat en kompetisie was.

Elduné Ebersohn (10), ’n graad 5-leerder in Laerskool Wonderboom, staan op die drumpel van ’n sangdroom/reis: om vir die eerste keer op ’n vliegtuig te klim en saam met die Magaliesberg Kinderkoor in Spanje te gaan optree.

“Ek het steeds ou video’s van haar. In een van my gunstelinge is sy omtrent ses jaar oud, staan buite in ’n pers tutu en hou ’n stok vas asof dit ’n mikrofoon is,” vertel haar ma, Elrenscke Myburgh.

Sy neem al van graad 1 elke jaar deel aan die skoolkoor. Vanjaar het Elduné vir die eerste keer solosang by ’n kunstefees aangepak.

Op 13 Augustus by die Noordekruin Kunstefees by Adamo in Montana het sy Die Lappop gesing en ’n A ontvang. Later dieselfde dag het Lavender’s Blue haar ’n A++ besorg.

Met laasgenoemde het sy juis in aanmerking gekom vir keuring tot Magaliesberg Kinderkoor.

“Ek sou nooit kon dink dat ek jare later dieselfde dogtertjie met die kamma-mikrofoon sou probeer help om saam met ’n kinderkoor tot in Europa te kom nie,” sê Elrenscke.

Elduné Ebersohn (10) wil eendag ‘n Afrikaanse sangeres word. Foto: Verskaf

Die Magaliesberg Kinderkoor gaan van 1 tot 13 Julie 2027 na Italië, Frankryk en Spanje toer om aan die Golden Voices of Barcelona International Choir Competition deel te neem.

Die koor bestaan reeds 1997 onder leiding van Hannelie van Sittert. Daar is tans 50 aktiewe lede wat wissel van graad 4–12, tussen 9 en 18 jaar, van skole regoor Pretoria.

Die toerfooi is egter ongeveer R45 000 per persoon en Elrenscke wil graag die reis saam met Elduné meemaak.

“Ek is by elke koor- en revue-optrede. Ek is die een wat haar probeer rustig kry wanneer sy bang raak en haar aanmoedig wanneer sy dink sy kan iets nie doen nie.”

Elrenscke het reeds twee poste en studeer voltyds. “Baie van my tyd en inkomste gaan reeds daarin om haar die kans te gee om haar talente te ontwikkel.”

Elduné Ebersohn saam met die sanger Eloff by Voortrekkermonument se fees – Toeka tot Toekoms op 24 September. Foto: Verskaf

Op hierdie stadium verkies Elduné om saam met die koor te sing.

“Wanneer ons saam sing, voel dit asof ons ’n groep is en deel is van iets groter as onsself,” sê Elduné.

Sy sê sy sien die meeste daarna uit om te sien hoe ander lande lyk en plekke te beleef wat sy nog net op foto’s of TV gesien het.

Oor die vliegtuigrit en kompetisie sê sy: “Ek is baie opgewonde, maar ook senuweeagtig en ’n bietjie bang.”

Haar ma sê: “Ek dink dit beskryf haar nogal mooi. Sy doen hierdie dinge nie omdat sy nooit bang is nie; sy leer om dit te doen al is sy bang.”

Elduné sê sy wil graag eendag ’n Afrikaanse sangeres word.

“Wanneer ek sing, voel ek gelukkig en vry.”

Elduné Ebersohn Foto: Verskaf

– Kyk hier: Van jong Elduné met haar kamma-mikrofoon tot waar sy vandag is:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button