Opposisieparty eis ondersoek na beweerde watertenkermafia

Die Gautengse provinsiale tesourie word vereis om ’n volledige forensiese ondersoek na watertenkerkontrakte van die metro te doen, alle betalings- en verkrygingsrekords te bewaar en te verifieer of die dienste waarvoor betaal is, wel gelewer is. Die ondersoek moet vasstel of enige onregmatige optrede plaasgevind het en dat persone wat aan korrupsie skuldig bevind word, aanspreeklik gehou moet word.

Die DA eis ’n dringende forensiese ondersoek na die metro se R777 miljoen-uitgawes aan watertenkers gedurende die 2024/25-boekjaar.

Die party het dié eis tydens ’n betoging voor die Gautengse premier se kantoor in Johannesburg gestel en ’n formele versoek aan premier Panyaza Lesufi se regering gerig.

Cilliers Brink, DA-koukusleier in die Tshwane metro, sê die ondersoek moet ingevolge artikel 106 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels ingestel word om beweerde onreëlmatighede met die toekenning en betaling van watertenkkontrakte te ondersoek.

Brink sê Lesufi moet verduidelik watter stappe sy regering gaan doen om die bewerings te ondersoek.

Die DA het op 13 Oktober met watertenkers opgedaag by die premierskantoor van die Gautengse provinsiale regering om ‘n memorandum oor watervoorsiening in die metro te oorhandig. Foto: Verskaf

Die DA-koukusleier het ’n formele antwoord binne 30 dae versoek.

Volgens hom is daar ernstige vrae oor verkrygingsprosesse, betalings aan maatskappye met beweerde politieke verbintenisse en die moontlike misbruik van noodwatertenkkontrakte.

Een van die transaksies wat volgens Brink ondersoek moet word, behels ’n gerapporteerde betaling van R95 miljoen aan ’n maatskappy waarrondom, volgens Brink, vrae bestaan oor die maatskappy se vermoë om genoeg watertenkers beskikbaar te stel om die gekontrakteerde dienste te lewer.

Brink het ook ’n betaling van R125 miljoen geïdentifiseer sowel as ’n betaling van R31.7 miljoen aan maatskappye wat volgens hom verbind word met ANC-leierskap in die metro.

Hy beweer dat daar vrae bestaan oor of dié maatskappye oor verifieerbare watertenkers beskik en sê die transaksies moet deeglik ondersoek word om vas te stel of dienste wel gelewer is, wie betalings goedgekeur het en wie uiteindelik by die kontrakte gebaat het.

Hy versoek ook dat alle dokumente met betrekking tot die kontrakte onmiddellik bewaar word.

Dit sluit tenderdokumente, verslae oor bod-evaluering, bestelvorms, fakture, afleweringsbewyse, GPS- en telematika-data, asook finansiële en verkrygingsrekords in.

Volgens Brink is die bewaring van hierdie dokumente noodsaaklik om te verseker dat die ondersoek op volledige inligting gegrond word.

Die party verwys in sy versoek na gebeure in Junie 2024, toe die destydse DA-geleide stadsregering ’n watertendertoekenning gekanselleer het weens beweerde ernstige verkrygingsonreëlmatighede.

Volgens Brink het die destydse administrasie ook geweier om watertenkerverskaffers te betaal wat betaling geëis het sonder geldige bestelvorms.

Hy beweer onder die nuwe koalisieregering het die metro vervolgens fakture vir watertenkers betaal wat die vorige administrasie geweier het om te betaal.

Brink wil hê dat die omstandighede rondom hierdie betalings ondersoek word en dat vasgestel word of die kontraktuele dienste werklik gelewer is.

Die DA-afvaardiging van Pretoria het op 13 Oktober na die premierskantoor van die Gautengse provinsiale regering gereis om ‘n memorandum oor watervoorsiening by wyse van watertenkers te oorhandig. Foto: Verskaf

Intussen bly waterverliese weens verswakkende infrastruktuur ’n groot uitdaging in Pretoria, voeg hy by.

Volgens die inligting wat die DA in die memorandum aangehaal het, verloor die stad jaarliks water ter waarde van tussen R1.35 miljard en R1.7 miljard.

Die metro se eie elektronies inligtingsaantekenbord het oor ’n tydperk van 12 maande gemiddelde waterverliese van 42.6% aangeteken.

In dele van Soshanguve, Ga-Rankuwa en Mabopane gaan na bewering ongeveer die helfte van die watertoevoer verlore.

Brink voer aan dat die verval van waterinfrastruktuur die vraag na noodwatertenkers verhoog, terwyl groot bedrae aan kontrakte bestee word wat volgens die DA ondersoek moet word.

Hy meen dat meer geld eerder aan die herstel van lekkasies, die vervanging van verouderde pype en die opgradering van die watervoorsieningstelsel bestee moet word.

Brink verbind die party se voorgestelde oplossing ook aan die DA se 2026-manifes. Indien die party die metro regeer, sê hy, sal waterinkomste afgesonder word om direk in die vervanging van ou pype, die herstel van lekkasies en die opgradering van waterinfrastruktuur te belê.

Volgens hom kan beter infrastruktuur waterverliese verminder en die betroubare basiese dienste bied wat ondernemings nodig het om te belê, uit te brei en werk te skep.

Vrae is aan die metro oor die bewerings gestel en antwoorde sal bygevoeg word soos ontvang. Die premierskantoor is ook om kommentaar genader.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button