
Laerskool Bysonderheid op Roedtan het Saterdag sy 100-jarige bestaansjaar gevier.
Die hoof van die skool mnr. Nardus Vosser, het met sy verwelkoming gesê die skool is op 8 Oktober 1913 met ‘n leerlingtal van 23 geopen. Die skool se oorspronklike naam was Klawervlei omdat dit op die plaas met dieselfde naam opgerig is.
Die eerste skoolgebou is deur die ouers opgerig met materiaal wat die staat verskaf het. Die gebou was van hout en sink.
Op 10 Junie 1926 is die skool na Bysonderheid verskuif. Die skool se naam het toe ook na Bysonderheid Goewermentskool verander.
Omdat die ou skool in ‘n ongewenste omgewing gestaan het, is ‘n nuwe gebou beplan. Dit is op 29 Februarie 1932 betrek en is dieselfde gebou wat tans nog gebruik word.
In 1953 is begin net die bou van ‘n koshuis wat 146 kinders kon huisves. Die koshuis is op op 22 Januarie 1954 amptelik geopen.
In 1960 is ‘n bykomende klaskamer, ‘n gradekamer en ‘n sentrale biblioteek voltooi. Die skoolsaal is op 1 November 1974 in gebruik geneem.
Na die verwelkoming het die leerders bome op die terrein geplant. Hierna kon almal lekker saam kuier.