
Louis Linde is al 28 jaar in die onderwys betrokke, waarvan agt hier by Laerskool Louis Trichardt.
Louis het in Pretoria aan die Hoërskool Wonderboom gematrikuleer. Daarna het hy sy militêre diensplig gedoen en tot die rang van kaptein gevorder.
Louis het aan die PUvir CHO in Potchefstroom studeer en sy graad in meganiese ingenieurswese verwerf.
“Ek kon nie besluit of ek ‘n meganiese ingenieur wou word en of ek ‘n onderwyser wou word nie, maar toe het ek ‘n roeping ontvang om ‘n tegniese onderwyser te word. Ek het daardeur myself opgewerk tot skoolhoof,” sê Louis.
Louis en sy vrou, Elsje, is die trotse ouers van drie kinders. Hul oudste seun is ‘n predikant in die Gereformeerde Kerk in Pretoria, hul dogter studeer in Potchefstroom en hulle jongste seun is ‘n gr. 11-leerder aan Hoërskool Louis Trichardt. Louis en Elsje is ook oupa en ouma van twee kleinkinders.
Louis was vir vyf jaar lank die skoolhoof van Hoërskool Eric Louw in Musina.
Hy het aansoek gedoen vir ‘n bevorderingspos in Makhado. Die pos is ‘n bevordering in terme van die leerlingtal in die skool.
“Om ‘n kind te sien wat verward of bang by die skool aankom in gr. 0 of gr. 1 en na sewe of agt jaar te sien hoe daardie kind ontwikkel het, is vir my ‘n hoogtepunt,” verduidelik hy.
Volgens Louis is die laagtepunt van skoolhoof wees kinders wat magteloos en reddeloos is as gevolg van huislike omstandighede.
Kinders wat onderwysers as plaasvervangende ouers sien en na die skool toe vlug om uit omstandighede te ontsnap.
Wat min mense van Louis weet:
“Ek het in 2003 my regterpinkie verloor in ‘n waterpompongeluk. Ek is ook die onder voorsitter van die SAOU (Suid Afrikaanse Onderwys Unie) van die skoolhoofde in Limpopo en ons is intens bemoeid met veranderde omstandighede soos dit tans in onderwys ervaar word.
“As geroepe Christen onderwyser is dit ook my passie om aandag aan Christelike onderwys te gee.
“Ek is ‘n lid van die Christelike onderwys deputate van die nasio-nale sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid Afrika. Hier poog ons om die Christen-onderwysers in skole te bemagtig.”
Louis vertel van die keer toe die matrikulante van Eric Louw destyds wou stokkiesdraai het hulle nie besef het hulle het met ‘n fikse hoof te doen nie.
Louis het die seuns ingehardloop waar hulle op pad was om die skool se terrein te verlaat.
“Ek het ‘n seun op die skouer getik en vir hulle gesê een twee drie blok julleself, gaan terug klas toe.”
Hierdie toegewyde skoolhoof verduidelik dat ouers deesdae ‘n groter verantwoordelikheid in kinders se opvoeding moet aanvaar as voorheen.
“Ouers moet meer betrokke wees en kinders se doen en late reguleer.
“Wedersydse respek en aanvaarding van gesag begin immers by die ouerhuis,” sê Louis.
Hy verduidelik ook dat die grense baie duidelik gestel moet word by die ouerhuis en by die skool.
Die skool en ouers moet in ‘n vennootskap volle verantwoordelikheid vir die kinders se opvoeding aanvaar.