MunicipalNews

Makhado laat weer die water spat in 2014

Die dorpswembad in Makhado is al bykans vier jaar in onbruik.

Die dorpswembad in Makhado is al bykans vier jaar in onbruik.

Dorpswembaddens is daar vir die gemeenskap om te gebruik en daarom hoor Vhembe Herald by inwoners of hulle van hierdie swembad gebruik sal maak indien dit weer sou oopmaak.

“Ja beslis”, sê Stefan Barnard. “Die dorpswembad was die hoogtepunt van ons kinderdae, veral in die vakansietye.

“Ons het nie ‘n swembad gehad nie, so dit was baie lekker om ons tyd daar deur te bring.

“Ek sal graag daar met my kinders wil gaan braai en swem, maar ek moet byvoeg: net as dit veilig genoeg is, want deesdae weet mens nie meer nie.”

“Dit sal vir my lekker wees as die dorpswembad weer oop is. Dit sal lekker wees om saam met my gesin ‘n bietjie weg te kom van die huis af op ‘n Sondag en lekker te braai en swem,” sê Charne Venter.

“Ek sal dit geniet as die dorpswembad weer kan oopmaak, omdat dit ‘n lekker gesellige dag kan wees saam my vriende. Dis iets om te doen, want hier is niks in Makhado om te doen nie. Dit is hoekom baie kinders ook verkeerde dinge aanvang, want ons dorp het niks,” sê Mariska Jordaan.

“Ek glo ook ‘n dag by die swembad kan my familie nader aan mekaar bring. Daar is niks lekkerder as om die dag langs die swembad deur te bring saam met jou familie en vriende nie,” is Mariska se mening.

Susare Venter sê sy verkies om by haar huis te swem en Kiewiet Roos stem saam. “Ek hou nie van publieke swembaddens nie, so ek swem eerder by my huis.”

Monique Labuschagne sê, “Ek sal daarvan hou as die dorp se swembad weer oop is. Toe ek jonger was, het ons groot sports gehad by daardie swembad.”

Maryke Jacobs vertel hoe hulle altyd by die dorp se swembad geswem het. Sy sê sy sal enige tyd weer daar gaan swem. “Ons het nie ‘n swembad nie en ek geniet dit om te swem,” sê Maryke.

Vir Louis en Martie Strydom was die dorp se swembad ‘n spesiale plek. Hulle het daar ontmoet en is vandag al 21 jaar getroud.

Volgens Louis Bobodi, woordvoerder van die Makhado Munisipaliteit, behoort die swembad voor einde 2014 weer oop te wees vir die publiek.

Finansies het dit nie voorheen toegelaat om die swembad reg te maak nie, maar die munisipaliteit het nou voorsiening gemaak in die begroting vir 2013/14 vir die regmaak van die dorpswembad.

Bobodi sê dat hulle wil seker maak die swembad is reg en veilig voordat dit weer oopgemaak word.

So lyk die swembad, wat eens 'n oase vir die inwoners van Makhado was, vandag.
So lyk die swembad, wat eens ‘n oase vir die inwoners van Makhado was, vandag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button