Emien sien potensiaal raak
Emien Landman is die eienaar en afrigter van Rhythmic Elegance
Sy het al sedert haar tienerjare gedroom daarvan om ‘n ritmiese gimnastiek-afrigter te wees en ‘n gimnastiekklub wat ‘n positiewe uitkyk uitbeeld te besit.
Emien Landman is die eienaar en afrigter van Rhythmic Elegance en sy lewe vandag haar droom.
“Van die dag wat ek met gimnastiek begin het, het ek geweet ek wil eendag ‘n afrigter word en toe ek 16 jaar oud was, het ek reeds deeltyds begin afrig,” vertel Emien, wat haar sport met die wêreld wil deel.
Sy het op die klein dorpie, Gravelotte grootgeword en saam met haar familie na Polokwane verhuis toe sy 10 jaar oud was. “Dit was toe wat ek met gimnastiek begin en ‘n liefde daarvoor ontwikkel het,” sê sy.
Emien het ‘n basiese gimnastiek kursus gedoen, waarna sy in die ritmiese gimnastiekdissipline gespesialiseer het en ‘n kursus in daardie rigting voltooi het. “Ek moes natuurlik ook ure se afrigting by ‘n klub aflê om te kan kwalifiseer as ‘n volwaardige afrigter,” verduidelik sy.
Wat is ‘n goeie afrigter? “‘n Goeie gimnastiek-afrigter het baie geduld, is toegewyd tot perfeksie en het baie gimnastiekkennis om aan haar gimnaste oor te dra,” vertel Emien.
Sy glo ook dit is belangrik om nie net met die gimnaste wat uitblink te werk nie, maar om die potensiaal in elke gimnas raak te sien en daaraan te werk.
“Elke gimnas verdien ‘n kans om te blom,” sê sy.
Emien is enkellopend en het nie kinders nie. Sy sê sy beskou haar gimnaste as haar “kinders”.
“Ek sien myself oor 10 jaar gelukkig getroud en ‘n ma van my eie klein gimnassies,” skerts sy.
Sy sê gimnastiek is haar leefstyl en haar hele hart en siel gaan in haar afrigting in.
“Don’t wish for it, work for it,” is die woorde waarmee sy haarself en haar gimnaste gereeld motiveer.



