Local NewsLocal sportNewsSport

Skopboks in hul are

Leandri (11) en haar suster, Erika (15) Peyper neem aan skopboks deel om fiks te bly

Leandri (11) en haar suster, Erika (15) Peyper neem aan skopboks deel om fiks te bly, vir dissipline en om tyd saam met hul familie deur te bring.

“Amper ons hele familie beoefen skopboks en ons wou met die sport begin om meer tyd saam met hulle te spandeer,” vertel Erika, wie se ma ook skopboks beoefen.

Tydens hul klub se onlangse prysuitdeling het Erika die trofee vir die junior sportmeisie van die jaar en junior algehele sportspersoon van die jaar gewen, terwyl Leandri die trofee vir senior sportmeisie van die jaar gewen het.

Albei die sussies het ‘n passie vir die sport en presteer op beide provinsiale- en nasionale vlakke. Erika het tydens hierdie jaar se provinsiale kampioenskap twee eerste plekke en ‘n tweede plek verower. Leandri het ook aan die kompetisie deelgeneem en twee tweede plekke gekry.

Tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskap het die twee weer hul harte uit baklei. Erika het op die kompetisie vier eerste plekke en ‘n tweede plek geneem. Leandri het ‘n eerste plek en ‘n tweede plek behaal.

Vir die twee is die graderings die moeilikste. “Hulle toets jou uithouvermoë, kyk of jy alles kan doen en of jy alles kan onthou,” verduidelik Leandri.

Erika het met hierdie jaar se gradering haar swart gordel, eerste dan, verower en Leandri haar bruin gordel drie. “Mens doen eers bruin drie, dan bruin twee en laaste bruin een,” vertel Leandri.

Die twee droom om eendag ook sensei’s te word en net so goed soos sensei Nico Myburgh te wees. “Sonder sensei Nico sal skopboks maar vervelig wees,” sê Erika.

Volgens die twee is skopboks as sport nie net lekker nie, maar baie belangrik vir ‘n meisie om aan deel te neem. “Die sport leer mens selfverdediging, en dis veral nodig vir ‘n meisie om te kan baklei as sy in die moeilikheid is,” sê Erika.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button