Familie, vriende en kollegas groet geliefde Hein Viljoen
Hy was 'n bondgenoot, 'n vriend deur dik en dun, raadgewer en lojaal teenoor sy werk, familie en vriende.
POLOKWANE – Hy was ‘n bondgenoot, ‘n vriend deur dik en dun, raadgewer en lojaal teenoor sy werk, familie en vriende.
Dis hoe 56-jarige Hein Viljoen, oud-seniorstaatsaanklaer van die Polokwane streekshof, se familie hom sal onthou.
Hy is Sondagoggend by Mediclinic Limpopo oorlede. Viljoen het op Saterdag 1 Maart sy heup gebreek en is dadelik opgeneem in die hospitaal. Hy het die Maandag ‘n heupoperasie ondergaan, maar het nooit herstel nie.
Sy suster, Salomé de Beer sê hy het net al hoe sieker geword en sy hart het begin probleme gee. “Ons gaan hom ongelooflik baie mis. Hy was ‘n wonderlike mens.”
Viljoen het 40-jaar vir die departement van justisie en grondwetlike-ontwikkeling gewerk. Hy is op 2 Januarie 1974 aangestel deur die departement en in 1976 het hy sy kwalifikasie in regte verwerf. In 1977 is Viljoen aangestel as staatsaanklaer in die distrikshof, en in 1985 is hy bevorder tot beheeraanklaer van die destydse Noord Transvaalse-streekshof.
In 2004 is hy bevorder tot seniorstaatsaanklaer van die Polokwane streekshof tot hy op 28 Februarie 2014 afgetree het.
Koos van Zyl, staatsaanklaer in die Polokwane streekshof sê hy het sedert 1982 saam met Viljoen gewerk.
“Hein was ‘n wonderlike mens. Hy was lief vir die natuur en het van visvang gehou.
“Hy was baie pligsgetrou en ‘n mens kon enige tyd na hom gaan met ‘n probleem en hy sou luister en raad gee. As jou probleem meriete gehad het, het hy jou te gemoed gekom,” sê van Zyl.
Die familie wil graag almal vir hul boodskappe, oproepe en bemoedigende woorde bedank. Hulle bedank ook die personeel van Mediclinic Limpopo vir hul diens en ds. Deon Haumann en ds. Gerhard Snyman.
Viljoen se roudiens sal by die N.G. Moedergemeente op die hoek van Grobler en Biccardstraat môreoggend (Woensdagoggend) 11:00 gehou word.



