Vegtertjie Björn se plekkie nou leeg
POLOKWANE - Die sesjarige Björn Serfontein was 'n dapper jong vegtertjie en sy dood is 'n groot verlies.
POLOKWANE – Die sesjarige Björn Serfontein was ‘n dapper jong vegtertjie en sy dood is ‘n groot verlies.
Hy het aan ‘n nierdisfunksie gely, en is Saterdag in Mediclinic Limpopo aan septiese skok oorlede.
Volgens inligting was sy liggaam net te klein om verder weerstand te bied.
Björn was Attie en Annemie Serfontein se middelkind van drie seuns.
‘n Familievriendin, Martina Pretorius, het gesê Björn het ‘n harde pad gestap van sy geboorte af.
“Hy was die afgelope maand net ‘n week by die huis en die res van die tyd was hy in die hospitaal.
“Hy was ‘n regte engeltjie gewees. Al was hy baie siek, het hy steeds so onder sy kuif deur met sy blou oë na ‘n mens geloer met soveel liefde en vriendelikheid in sy oë. Ons gaan hom ongelooflik baie mis,” het sy gesê.
Björn was in gr. R aan Oosskool en ‘n leerder in die Kameelperdklas by juffrou Anjah de Nysschen.
Sy het hom as volg beskryf:
“Al was Björn baie siek het hy sy bes gedoen in alles wat hy aangepak het.
“Die plastiekdiere was sy gunsteling speelgoed in die klas.
“As ek dit nie die oggend uitgehaal het nie, het hy na my toe gekom en gevra of hy met dit kan speel.
Sy het ook vertel van Björn se innemendheid.
“Wanneer hy speeltyd verby die klas geloop het en gesien het dat die skoonma-ker besig was om op te ruim, het hy ingespring en gehelp. Hy was ‘n spesiale mens met ‘n sagte geaardheid. Ons gaan hom baie mis,” het De Nysschen gesê.
Björn se familie het die inwoners van Polokwane bedank vir hul ondersteuning en gebede in hierdie tyd.
“Al is hy nie meer met ons nie, het Björn nog die gawe om die gemeenskap saam te trek.
“Hy was ‘n besonderse kind en enige iemand wat hom ontmoet het, het lief geraak vir hom,” het Pretorius gesê.
Björn se begrafnis sal vandag (Donderdag) om 11:00 vanuit die APK-gemeente op die hoek van Potgieterlaan en Diemeerstraat in Welgelegen gehou word.
Hy word oorleef deur sy pa, ma en twee broers.



