POLOKWANE – Westenburg inwoners sê hulle is baie ongelukkig oor munisipale kragbokse in die woonbuurt wat erg verwaarloos word.
Die inwoners kla dat die kragbokse ‘n veiligheidsrisiko is en sê hulle vrees dat ‘n kind se lewe moontlik in gevaar gestel kan word deur die swak toestand van hierdie kragbokse.
Review het die saak ondersoek en gevind dat ‘n kragboks in Buysstraat, naby die laerskool, oopstaan en nie kan sluit nie. Die kragboks is ook welig toegegroei met gras.
In Grantstraat is daar twee kragbokse wat stukkend is. Die deure van die kragbokse is oopgebreek en inwoners het dié deure met draad vasgebind in ‘n desperate poging om dit veiliger te maak.
In Ben Harrisstraat, naby die plaaslike vulstasie, is daar ook ‘n kragboks wat op dieselfde manier met draad toegebind is.
Gladys Snyders woon in Grantstraat en een van die stukkende kragbokse is reg voor haar huis se hek.
“Die kragboks is sedert 2003 stukkend. Ons en nog ander mense wat in die straat woon het al vele kere die stukkende kragboks aan die munisipaliteit gerapporteer en dan sê hulle iemand gaan kom om dit reg te maak, maar niemand het nog gekom nie.
“Wanneer ons munisipale werkers wat in die omgewing werk vra oor die herstel van die kragboks, sê hulle dit is nie hulle afdeling nie,” sê sy.
Snyders sê sy onthou ‘n geval waar drie kinders gebrand het by ‘n kragboks wat ook so oopgestaan het.
“Hier is nie altyd grootmense om te kyk dat die kinders nie by die kragboks speel nie. Ons pleit by die munisipaliteit om asseblief die stukkende kragbokse te kom regmaak en ook dié wat so oopstaan te kom sluit,” sê Snyders.
Sy sê dit sal ook keer dat die kinders nie mense se krag afskakel nie. “Die kinders is baie stout. Hulle speel met die skakelaars en skakel mense se krag af. As die kragboks reggemaak en gesluit word, sal hulle nie meer dit kan doen nie.”
Malesela Maubane, van die Polokwane Munisipaliteit sê die munisipaliteit maak stukkende kragbokse reg sodra dit gerapporteer word.
“Ons is besig met inspeksie van kragbokse in die munisipale area om ‘n aksieplan vir voorkomende instandhouding te ontwikkel,” verduidelik Maubane.
Die munisipaliteit versoek inwoners om enige vandalisme van kragbokse of gebreekte kragbokse aan die munisipaliteit te rapporteer by (015) 290 2490/2000.



