POLOKWANE – Amper 11 jaar na die eerste klagte het die Polokwane Munisipaliteit ‘n stukkende kragboks in Grantstraat, Westenburg, verwyder en vervang met ‘n nuwe een.
Inwoners sê hulle is deur die munisipaliteit verwittig dat hul krag vanaf 08:00 sou af wees terwyl werk aan die kragboks gedoen word. Die inwoners sê hulle het nie probleme daarmee gehad nie en was net bly dat die kragboks reggemaak sou word. Die krag is weer om 14:30 aangesit.
Dit volg na Review se berig oor inwoners in die straat wat ongelukkig was oor die kragboks wat oopgestaan het en ‘n moontlike veiligheidsrisiko was vir kinders. Die kragboks se deur was afgebreek en inwoners moes dit met draad vasgebind.
Gladys Snyders woon in Grantstraat en die kragboks is reg voor haar huis se hek. “Die kragboks is sedert 2003 stukkend. Ons en nog ander mense wat in die straat woon het al vele kere die stukkende kragboks aan die munisipaliteit gerapporteer en dan sê hulle iemand gaan kom om dit reg te maak, maar niemand kom nie. Danksy Review is die kragboks nou reggemaak en ons is baie dankbaar. Sonder Review se hulp sou die boks nogsteeds stukkend gestaan het,” sê Snyders.
Volgens Snyders kan hulle nou gerus wees. “Die kragboks is toe en nou is ons kinders veilig. Die nuwe kragboks is ook van daardie soort waar niemand met die skakelaars kan speel nie, net die munisipaliteit se werkers het toegang, so ons krag gaan nie meer afgesit word deur stoute kinders nie,” sê sy.
Die munisipaliteit het ook die area om die kragboks op die hoek van Ben Harris- en Leonstraat, wat welig toegegroei was, skoongemaak.
Ses jaar gelede het twee kinders erge brandwonde opgedoen toe dié munisipale kragboks ontplof het. Die kinders het na bewering met die kragskakelaar gespeel toe dit ontplof het.
Die munisipaliteit het destyds die kragboks reggemaak en ‘n heining omgesit vir veiligheidsdoeleindes.
Die hek van die heining is intussen afgehaal, vermoedelik gesteel, en die kragboks het erg toegegroei, só erg dat mens nie die kragboks kon sien nie.
Inwoners sê egter hul blameer nie die munisipaliteit alleen nie. “Die gemeenskap moet ook verantwoordelikheid neem.”
“Dankie aan Review, want nou is dit weer skoon hier en kan ‘n mens darem sien as daar kinders is wat by die kragboks speel,” sê een van die inwoners wat daar naby bly.



