Kerk behaal hulle hekelmikpunt
Die Nederduitsch Hervormde Kerk Welgelegen-Pietersburg het hul mikpunt van 400 gehekelde kniekombersies Sondag gehaal.
POLOKWANE – Die Nederduitsch Hervormde Kerk Welgelegen-Pietersburg het hul mikpunt van 400 gehekelde kniekombersies Sondag gehaal.
Dié gemeente het besluit om kombersies te hekel en dit dan alles aan mekaar vas te werk om sodoende die grootste gehekelde kombers in die wêreld, 600m², te vorm. Om dit reg te kry moes hul 400 kombersies hekel.
Die spertyd vir hierdie mikpunt was vir die einde van Julie vasgemaak. In Augustus sal hulle dan die kombers meet en die afmetings aan Guinness World Records stuur.
Ds. Henk Joubert, leeraar van die kerk, het ‘n barometer geskep em die vordering van die projek aan die gemeente en belangstellendes te toon en Sondag het die barometer oorgeloop toe die 402ste kombers by die pastorie ingehandig is.
“Ons gaan aanhou hekel tot kort voor 8 Augustus,” vertel Joubert. Die gemeente beoog om die huidige rekord van 286m², wat in Amerika opgestel is, te verbeter.