Local NewsLocal sportNewsSport

Lenize spog in groen en goud

Lenize Potgieter sê sy laat nie toe dat haar sukses op die sportveld na haar kop toe gaan nie en sal altyd die mens bly wat haar familie ken en liefhet.

POLOKWANE – Lenize Potgieter sê sy laat nie toe dat haar sukses op die sportveld na haar kop toe gaan nie en sal altyd die mens bly wat haar familie ken en liefhet.

Hierdie oud-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) is op 8 Junie in die Protea Netbalspan opgeneem en sy sal Suid-Afrika verteenwoordig in hul drietoets-reeks teen Skotland van 19 tot 21 Junie.

Lenize blink nie net uit op die netbalbaan nie. Tans is sy tweede in die wêreld gelys op die vroue-enkelspelranglys vir ringtennis en sy deel die eerste plek op die vrouedubbelspelranglys vir ringtennis met haar spanmaat, Monique Reyneke.

Dié student aan die Universiteit van Pretoria, wil graag haar honeursgraad in biokinetika en sportwetenskap verwerf. Sy staan 1,86m in haar skoene en sê sy voel tuis op die netbalbaan wanneer sy doel speel.

“Die doel is die enigste posisie wat ek geniet. Die doelsirkel is my eie persoonlike bubble waar ek kan wegkruip en rustig raak. Wie wil nou heeltyd rondhardloop op die baan,” skerts sy.

Die Proteas se afrigter, Elize Kotzé, beskryf haar as “iemand wat haar man kan staan teen baie ervare spelers soos Karla Mosterd en Adéle Niemand se verdediging”.

Lenize sê sy is baie lief vir die buitelewe. Sy is in haar element wanneer sy saam met vriende en familie op die strand tyd kan spandeer. Sy is ook baie lief vir reis en sê sy beplan om eendag ‘n backpack-avontuur deur Europa saam met haar ma aan te pak. Sy het egter geen behoefte om Asië te verken nie.

“Daardie deel van die wêreld is net nie vir my ‘n plek wat ek wil sien nie. Die groot muur van Sjina sal dalk my aandag bietjie trek,” verduidelik sy.

Lenize beskryf haarself as iemand wie se liefde vir mense alle grense oorskry. Sy dring aan op lojaliteit en eerlikheid van haar medemens en maak maklik vriende, omdat sy van mense hou. Haar familie is vir haar baie belangrik en sy deel ‘n spesiale band met haar ma, Helene, wat ‘n groot rol in haar sukses op die sportveld speel.

Om van haar frustrasies ontslae te raak, doen sy Taebo in die privaatheid van haar kamer. “Ek sluit my deur en begin net skop en slaan en huil wanneer dit nodig is.”

Haar raad aan jong netbalspelers is eenvoudig: “Speel jou eie spel en doen wat vir jóú werk. Jy dink dalk nie so nie, maar daar is mense wat jou spel al van laerskool af dophou.”

Wanneer sy voorberei vir ‘n wedstryd, het Lenize ‘n unieke benadering.

“Ek moet nie op die spel fokus nie. My gedagtes moet op ander dinge gefokus wees as ek wil presteer,” vertel sy.

Sy het wel ‘n gelukbringertjie, ‘n hangertjie met ‘n kruisie aan, wat haar ouers vir haar gekoop het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button