CrimeEditor's choiceNews

Pangaman se wrede aanval

'n 62-jarige vrou wat Donderdagaand wreedaardig met 'n panga aangeval is op 'n plaas naby Mara in die Vivo-omgewing, sterk tans aan in die Limpopo Mediclinic.

POLOKWANE – ‘n 62-jarige vrou wat Donderdagaand wreedaardig met ‘n panga aangeval is op ‘n plaas naby Mara in die Vivo-omgewing, sterk tans aan in die Limpopo Mediclinic.

Sophia Botha se wonde is Vrydag tydens ‘n operasie, wat meer as ses uur geduur het, geheg.

Volgens haar werkgewer, Freek Snyman, het sy kopwonde asook snye aan haar arms opgedoen tydens die aanval. Haar regterduim is afgekap en haar linkerhand ernstig beseer.

Sy is ‘n verteenwoordiger van ‘n landbou-chemikalieë maatskappy en werk in die Vivo-omgewing.

Die verdagte waarna gesoek word is na bewering ‘n Zimbabwiër. Hy het op die plaas waar Botha ‘n huis huur, gewerk en is Woensdag die plaas verbied deur die eienaar nadat hy glo geweier het om sy werk te doen.

Volgens die polisiewoordvoerder van die Mara-polisiestasie, konst. Thabelo Rambuda, het die aanvaller Botha ingewag in haar huis toe sy Donderdagaand tuiskom. Hy het glo geld geëis.

Hy het haar met ‘n panga aangeval en ernstig beseer. Sy het onder andere haar duim in die aanval verloor.

Die aanvaller wou volgens Rambuda met ‘n bakkie vlug nadat hy ‘n groot hoeveelheid huishoudelike ware, onder andere ‘n televisiestel, daarop gelaai het. Die bakkie wou glo nie aansluit nie.

‘n Huiswerker wat daar naby woon het onraad gemerk toe sy hoor die voertuig wil nie aansluit nie en het na die plaaseienaar, wat daar naby woon, se huis gegaan om hulp te ontbied.

Die man het volgens Rambuda te voet gevlug. Boere en die polisie soek sedertdien nog steeds na hom.

Volgens Willem van Jaarsveld, hoof-uitvoerendebeampte van Agri Limpopo, het hy voelers uitgestuur na die boere in die omgewing toe hy hoor van die aanval op die vrou.

Hy sê ‘n boer wat sowat 70km van die plaas waarop die voorval plaasgevind het boer, het hom geskakel, ‘n man se naam genoem en gevra of dit die man is na wie gesoek word.

“Toe ek bevestigend antwoord, het die boer gesê dat die man vantevore by hom gewerk het en daar glo ook moeilikheid veroorsaak het,” het Van Jaarsveld gesê.

Kol. Ronel Otto, provinsiale woordvoerder van SAPS, het Maandagoggend bevestig dat geen arrestasies nog gemaak is nie en dat die polisie nog na die verdagte soek.

Jan Botha, seun van die slagoffer, het gisteroggend (Maandag) gesê sy ma sterk goed aan.

Sy is volgens hom reeds na ‘n gewone saal oorgeplaas en sou gister met traumaberading begin het.

Sy sal, sodra sy ontslaan word, tydelik by haar dogter gaan woon, omdat sy nog verdere mediese behandeling moet kry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button