Mev. Polokwane se regterhand nie ‘n man vir die kollig nie
Enige man wat werklik lief is vir sy vrou, is ook trots op haar werk en sukses.
POLOKWANE – Enige man wat werklik lief is vir sy vrou, is ook trots op haar werk en sukses.
So ook Arno du Preez, Mev. Polokwane 2013/14, Nadia, se man. Review het met hom gaan gesels om uit te vind wat sy ervaring is as die man van Mev. Polokwane.
“Ek is geweldig trots op my vrou. Die aand met haar kroning het ek net geweet sy gaan wen,” vertel Arno trots.
“Dit is vir my lekker as sy liefdadigheidsprojekte aanpak. Haar hart is op die regte plek.”
Hy vertel dat as sy haar hart op ‘n projek sit werk sy baie hard en maak sy ‘n sukses daarvan.
Nadia vertel dat Arno haar baie bystaan in haar projekte. Hy gee haar raad as sy vra en saam ruil hulle idees uit.
“Arno wil nie in die kollig wees nie, maar help baie agter die skerms. Hy vat ‘n ding en maak dit werk en is baie goed met delegeer,” vertel Nadia.
Arno vertel dat hy haar weer en weer sal ondersteun sou sy weer ‘n projek soos Mev. Polokwane aanpak.
Hy het sy eie besigheid in die konstruksiebedryf en vertel dat hy lang ure werk.
“Ek het geleer om ‘n doelbewuste besluit te neem om nie in te gaan werk toe as sy die dag ‘n liefdadigheidsgeleentheid aan het nie. Die rede hiervoor is dat ek nie weg kom by die werk as ek eers daar is nie.”
Arno en Nadia het onlangs ‘n baba dogtertjie, Romé, ryker geword.



