Polisie traag na hy sterf op motorfiets
Die onsensitiewe manier waarop 'n polisievrou na bewering opgetree het by die ongeluktoneel waar Wiam Page (18) dood is, word sterk afgekeur deur die polisie en publiek.
Die onsensitiewe manier waarop ‘n polisievrou na bewering opgetree het by die ongeluktoneel waar Wiam Page (18) dood is, word sterk afgekeur deur die polisie en publiek.
Volgens ooggetuies by die toneel in Gen. Viljoenstraat verlede Donderdag, het die polisie sowat ‘n uur en ‘n half geneem om na die toneel te kom nadat Page dood verklaar is.
Een ooggetuie, wat anoniem wil bly, vertel dat ‘n polisievrou uit ‘n bakkie geklim het by die toneel. “Terwyl sy uitgeklim het, het sy vir haar kollega gesê sy is nie baie lus vir die storie nie, en dat dit ‘n mors van haar tyd was.
“Ek kon verstaan wat sy sê en het vir haar gesê sy moet kalmeer en haar werk doen,” vertel die ooggetuie.
Volgens verskeie omstanders het hulle die polisievrou aan die polisiestasie gerapporteer.
Polokwane polisiewoordvoerder AO Lesiba Ramoshaba het gesê hy het nog nie die klagte in hierdie verband ontvang nie, maar dat sulke gedrag nie goedgekeur word nie.
“Die polisie is daar om ‘n diens te lewer en ons word deur die wet verplig om bystand te gee, maak nie saak wat die geval is nie.
“Geen lid van die polisie mag hul dienste weier of dit met ‘n negatiewe houding hanteer nie.
“Ek nooi alle lede van die publiek uit om sulke gevalle so gou as moontlik by die polisiestasie of stasiebevel-voerder aan te meld sodat daar teen die betrokke lede opgetree kan word en ‘n voorbeeld van hulle gemaak kan word,” het Ramoshaba gesê.
Page se begrafnis sal (Vrydag) vanuit die Goeie Nuus Aanbiddingsentrum net buite die stad op die N1-noord plaasvind.
Hy word oorleef deur sy ouers Willie en Renet Page en sy broer, Steven.



