Só lyk ‘joie de vivre’
Abigail Rudd is 'n lewenslustige 12-jarige meisie wat haar uitleef deur haar kuns.
POLOKWANE – Abigail Rudd is ‘n lewenslustige 12-jarige meisie wat haar uitleef deur haar kuns.
“Ek hou baie daarvan om met olieverf te werk. Dit smelt mooi inmekaar en verf baie lekker. Ook hou ek van die helder kleure.
“Mens kan baie goeie drie-dimensionele tonele daarmee verf,” vertel Abigail waar sy in haar ouerhuis se sitkamer sit.
Abigail skilder reeds vandat sy nege jaar oud is en is ‘n leerder van Curro Heuwelkruin waar sy ‘n toekenning vir visuele kunste in gr. 4 ontvang het.
Haar ma, Leandré, vertel dat sy en haar man, Stephen, beide sportmal is en alles in hul vermoë gedoen het om vir Abigail sover te kry om aan sport deel te neem.
“Sy het egter nooit regtig ingepas by die sportmaats nie en toe sy nege jaar oud was, het sy eendag gesê sy wil graag kuns beoefen. Ek het baie getwyfel daaroor, maar toe ek haar eerste skildery sien, was ek baie verbaas oor haar talent,” vertel Leandré.
Abigail is ‘n student van René Bonthuys, ‘n plaaslike kunsonderwyser.
“Abigail het beslis talent en sy geniet dit om kunswerke te skep. Sy leef haar totaal en al uit in haar kuns,” vertel René. Abigail sê sy het al ‘n paar verskillende skilderye geskilder.
“Ek het twee skilderye wat bymekaar pas van ‘n meisie se bene geskillder oor ‘n tydperk van vier maande. Ek het ook ‘n skildery geskilder van die Eiffeltoring, ek noem dit Parys. Dit het my ‘n jaar geneem om Parys te voltooi,” verduidelik sy.




“Ek hou daarvan om anders te wees. Ek het ‘n perd geverf met kleure soos oranje, blou en geel. Ek hou nie daarvan om ordinêr te wees nie.”
Leandré vertel dat sy eers werklik besef het hoeveel talent Abigail het toe sy die perd gesien het.
“Dit was Abigail se tweede skildery en toe ek dit sien kon ek my oë nie glo nie. Dit was asof sy die perd se siel geskilder het.”
Abigail vertel sy het nie ‘n gunsteling onder haar skilderye nie en het nog nie enige kunswerke verkoop nie.
“Ek hou baie van Parys. Ek wil baie graag eendag na hierdie stad reis. Toe ek ‘n prentjie van die Eiffeltoring gesien het, het ek net geweet ek moet hom skilder.”
“Ons vermoed sy het haar talent by haar oorlede oupa geërf, want ek en Stephen is albei meer praktiese mense en het glad nie kuns in ons bloed nie. Ons is geweldig trots op haar,” vertel Leandré.



