Water stroom in Westenburg
Westenburg-inwoners sê die waterpype in hul woonbuurt is stokoud en daarom bars daar kort-kort 'n pyp en vermors baie water.
POLOKWANE – Westenburg-inwoners sê die waterpype in hul woonbuurt is stokoud en daarom bars daar kort-kort ‘n pyp en vermors baie water.
Die bewering kom nadat twee waterpype, volgens inwoners, gebars het verlede week; een Donderdagoggend op die hoek van Buys- en Kennedystraat en ‘n ander Vrydagoggend in Verveenstraat.
“Donderdag het die water in Buysstraat afgestroom tot in Ben Harrisstraat en ook af in Kennedy- en Verveenstraat. Dit was net water waar jy kyk. Liters water is vermors.
“Vrydag was die strate ook sopnat. Daar was so baie water, dit het gelyk asof daar ‘n reënstorm was. Party van ons kon dit nie verdra om te sien hoeveel water mors nie en het met emmers water geskep by die punt waar die pyp gebars het. Dié water het ons gebruik vir die toilette toe die munisipaliteit die stopkrane later toegedraai het,” verduidelik een van die inwoners.
Die inwoners het ook gekla oor die waterpyp op die hoek van Coverdale- en Southonstraat wat, volgens hulle, aanhou bars.
“Die pyp het drie maande gelede twee keer gebars in minder as drie weke,” het een van die inwoners vertel.


Die inwoners het gekla dat die munisipaliteit nie vinnig genoeg reageer wanneer hulle sulke voorvalle rapporteer nie.
“In so ‘n geval sit ons heel-dag sonder water. As die munisipaliteit dadelik reageer wanneer ons hulle bel, sal daar nie soveel water mors nie en dan kan hulle ook die pype vinniger herstel en ons hoef dan nie heeldag sonder water te sit nie,” het ‘n inwoner verduidelik.
Tidimalo Chuene, munisipale woordvoerder, het gesê die munisipaliteit se langtermynoplossing vir die probleem is om verouderde waterpype te vervang deur ‘n openbare private vennoot-skapsmodel.
“Die projek is reeds geregistreer by die nasionale tesourie,” het Chuene bevestig.
“Geen waterpyp het gebars Donderdag nie. Die munisipaliteit het twee hoofkleppe vervang, want dit het gelek. Daarom was daar water in die strate. Ons moes die kleppe toemaak om te kan werk en daarom was daar seker huishoudings wat sonder water was.
“Die munisipaliteit vra verskoning vir enige ongerief wat veroorsaak is. Vir vinnige reaksie op enige water- en sanitasiepro-bleme kan inwoners (015) 290 2376/2000/2457/2458 skakel,” het Chuene gesê.



