Johan volg in pa en oupa se voetspore
Johan Krüger, 'n matrikulant van Hoërskool Pietersburg (PHS), is een van Limpopo se twee topmatrikulante en deel hierdie eer met Julia Alsemgeest, ook van PHS.
POLOKWANE – Johan Krüger, ‘n matrikulant van Hoërskool Pietersburg (PHS), is een van Limpopo se twee topmatrikulante en deel hierdie eer met Julia Alsemgeest, ook van PHS.
Johan sê akademie was nooit iets waaraan hy besondere aandag gegee het nie, maar hy het nog altyd op hierdie gebied uitgeblink.
“Die groot geheim van akademiese sukses op skool is om altyd op te let in die klas en jou om huis-werk te doen. Sodra jy dan agterkom dat jy ‘n probleem het met ‘n vak, kan en moet jy dit dadelik aanspreek.
“Dan is jou pad na bo wawyd oop,” verduidelik hy.
Hy sê ook dat hy in alles wat hy aanpak net sy beste lewer, hetsy op die sportveld, in die klaskamer of tussen vriende.
Hy verduidelik dat hy ‘n besige gr. 12-jaar agter die rug het en dat hy aan verskeie aktiwiteite op skool deelgeneem het. Hy was in die eersteseunshokkiespan, deel van die skool se redenaarsspan, het aan debatte en die Mnr. PHS-kompetisie deelgeneem en hy het ook gholf gespeel en aan atletiek deelgeneem.
Hy verduidelik dat sy deelname aan sport en buitemuurse aktiwiteite hom ‘n geleentheid gegee het om sy kop skoon te maak en beter te konsentreer in die klaskamer.
Johan beplan om vanjaar medies aan die Universiteit van Pretoria te studeer en sal die derde geslag van sy familie wees wat medies aan dié universiteit studeer soos sy pa en oupa.
Hy sê hy sien baie uit na die onafhanklikheid van die studentelewe, maar voordat hy die pad na Pretoria aandurf, gaan hy eers langs die braaivleisvure kuier saam met familie en vriende.
Hy sê balans is baie belangrik vir ‘n suksesvolle lewe. “Ek hou daarvan om hard te werk, maar om hard te speel is vir my net so belangrik,” sê hy.
Alhoewel Johan gewoond is aan aka-demiese prestasie, sê hy dat hy steeds verbaas was toe hy as een van Limpopo se topmatrikulante aangewys is. “Ek kan net dankie sê vir die Here asook my ouers, familie en die onderwysers van PHS,” sê hy.
Johan gee graag raad aan vanjaar se gr. 12’s en sê hulle moet seker maak dat hulle van die heel eerste dag af hard werk. “Pak die jaar en jou skoolwerk aan met geloof in jouself en jou vermoë om te presteer,” sê hy.



