Aan Henda: ons liefde
Die naam Henda is van Joodse afkoms en beteken guns en genade. Hierdie eienskappe is presies wat Henda Nel (19) uitstraal.
POLOKWANE – Die naam Henda is van Joodse afkoms en beteken guns en genade. Hierdie eienskappe is presies wat Henda Nel (19) uitstraal.
Met haar sagte glimlag en vonkel in haar oë kruip sy vinnig in almal wat met haar ontmoet se harte in.
Henda ly aan T-sel akute limfatiese leukemie, ook genoem T-cell ALL. Hierdie tipe kanker sluit die beenmurg-, brein-, senuwee- en limfstelsel in. Henda ly ook aan leukemie, bloedkanker.
Henda het dringend ‘n beenmurgoorplanting nodig en om geld in te samel vir hierdie prosedure asook die mediese toetse vir potensiële skenkers, het die ringbal-gemeenskap van Polokwane Saterdag ‘n pretdag by die Polokwane-ringbalbane aangebied om geld vir Henda se mediese uitgawes in te samel.
“Henda is ‘n kranige ringbalspeler en die geld wat ons ingesamel het, gaan gebruik word om potensiële beenmurgskenkers te laat toets. Verskeie ringbalspanne het mekaar uitgedaag en daar was ook ‘n potjiekoskompetisie waaraan spanne deelgeneem het. Die span van Canon het met die potjiekos-wenprys weggestap,” het Sanda Lubbe, Henda se ma, vertel.
Van vroeg af het inwoners van die stad by die ringbalbane bymekaar gekom om hulle stalletjies gereed te kry en die potjies op die kole te kry.
Ringbalspanne het ook vroeg-vroeg begin om sake uit te spook in vriendelike wedstryde. Die span van Goldwagen het die prys vir die mees oorspronlike span gewen met hulle helderkleurige hare en kouse.
Deur die loop van die dag het studente van die Rock Hard Music School sowel as Dawie en Antoinette Lindner van Sing a Song Entertainment gesorg dat op en wakker musiek die pretdag opkikker.
Nadat al die ringbalspanne gespeel het, het Nic de Beer van Ark Afslaers ‘n veiling aangebied waar produkte soos rekenaardrukkers en pette opgeveil is. Dié produkte is geskenk deur plaaslike besighede.
Bo en behalwe die ringbal- en potjiekospret was daar ander stalletjies wat produkte ten bate van Henda verkoop het asook ‘n springkasteel vir die kinders.
Letitia Prinsloo het betaal sodat Henda haar hare moet afskeer.
“Is tannie seker? Dis regtig nie nodig nie,” het Henda gekeer, maar uiteindelik is Letitia se hare afgeskeer. Ook het Henda haar neef, Barend Lombard, se hare geskeer. “Sy is my niggie. Ek doen dit vir Henda” het hy trots vertel.
Teen skemer het die organiseerders van die dag vir Sandra en haar man, Dirk, eenkant geneem en ‘n groot, geraamde foto van Henda aan hulle oorhandig.
Die trane het gevloei en Sandra en Dirk kon nie enige woorde uitkry nie. Hulle moes met omhelsings dankie sê.
Uiteindelik het die hoogtepunt van die dag se vermaak aangebreek, DJ Ossewa. Oud en jonk het nader geskuif en DJ Ossewa het die gehoor vermaak en laat skaterlag tot in die vroeë oggendure.
“Hierdie dag beteken vir my so baie. Ek kan nie glo dat daar soveel mense is wat vir my omgee nie. Ek is opreg en diep dankbaar,” het Henda met trane in haar oë gesê.
“Ons het vandag R85 000 ingesamel. Die weer het wonderlik saamgespeel en dit was ‘n uiters suksesvolle dag. Ons het nog geld nodig, maar ons is verskriklik dankbaar vir dit wat ons reeds gekry het,” het Louwrenzia Swart, een van die organiseerders, gesê.



