Editor's noteLocal NewsNews

Ballon raaisel: Hier is Milla

Die groot raaisel rondom die onbekende skrywer, Milla, die ballon en die briefie is Vrydag opgelos toe twee baie spesiale mense in die stad mekaar ontmoet het.

POLOKWANE – Die groot raaisel rondom die onbekende skrywer, Milla, die ballon en die briefie is Vrydag opgelos toe twee baie spesiale mense in die stad mekaar ontmoet het.

Sowat twee weke gelede het ‘n inwoner van die Macadamia-aftreelandgoed gedurende ‘n laatmiddagstappie saam met ‘n vriendin, op ‘n pienk ballon afgekom waar dit in ‘n doringboom gebars het.

Aangeheg aan die ballon was ‘n netjiese handgeskrewe brief van “Milla”. In die brief het sy vir Jesus gevra om ‘n ene oom Roelof gesond te maak. In ‘n tweede briefie het sy vertel hoe baie sy “na die oom verlang” en dat sy dié ballon met ‘n briefie na die hemel stuur.

Wie Milla was het niemand geweet nie, maar tannie Tina Snijder se vertel daarvan op sosiale media het groot belangstelling en empatie gewek.

 

Lesers se reaksie het gewissel van “hierdie brief is baie kosbaar”, tot “so onskuldig”, en “ek hoop Milla se wens word waar”.

milla
Facebook

Tannie Tina, wat vroeër jare by Piet Hugo skoolgehou het, het vertel dat die besonderse vonds die inwoners van die aftreeoord se harte behoorlik aangeraak het.

“Die handskrif was duidelik dié van ‘n kind en ons het gewonder wie Milla is en onder watter omstandighede die brief geskryf is.

“Die briefie en die onskuld daarvan het ons baie na aan die hart gelê,” vertel sy.

Na die storie soveel belangstelling gewek het, het Review vir Milla opgespoor en ‘n ontmoeting met tannie Tina bewerkstellig.

Milla, ‘n sewejarige meisie van Oosskool, het selfs ‘n teddiebeer ontvang van die inwoners van die oord.

“Ek het die brief geskryf want my oom Roelof is na Jesus toe. As ‘n mens op aarde siek is, maak Jesus jou in die hemel gesond,” het Milla vertel.

Volgens Milla het sy en haar boetie dié dag ballonne die lug ingestuur, en het sy gesien hoe haar boetie se ballon “reguit hemel toe gaan”, maar “myne het maar net so laag bly vlieg”.

“My ma het gesê dalk is dit so bedoel dat iemand anders die briefie moet kry.”

Haar ma, Hilda, vertel hoe dié gebaar gestalte gekry het. “Kinders verstaan die dood anders as grootmense. Hulle leer van Jesus en die hemel en hoe gelukkig dit daar is, en begryp dan nie waarom mense hartseer is as iemand sterf nie. Vir jong kinders is die hemel ‘daarbo’ en ‘n ballon kom direk by sy bestemming uit soos kinders dit verstaan. In plaas van die hartseer van ‘n begrafnis is daar geluk en hoop vir hulle in ‘n ballon.”

Sy vertel dat toe haar swaer onlangs oorlede is, Milla vir ‘n ballon gevra het sodat sy ‘n brief kon skryf om seker te maak “Jesus maak hom gesond, omdat almal in die hemel gesond is”.

Vir tannie Tina, wat toevallig afgetree het in die jaar wat Milla gebore is, was die ontmoeting baie spesiaal.

Die nuus dat “oom Roelof klaar hemel toe is”, het maar swaar op haar hart gedruk, maar daar was darem goeie nuus ook: alhoewel Milla bietjie skaam was eers, het sy ook belowe om beslis weer te kom kuier, want so baie ‘oumas’ kan lekker bederf.

“Dit was lekker om te kon sien wie Milla is, en sy is welkom om sommer enige dag weer te kom kuier,” het sy gesê.

 

Lees meer oor Tannie Tina se ontmoeting met Milla. Tannie Tina skryf…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button