Grootste gehekelde kombers ter wêreld
Verlede Dinsdag het ds. Henk Joubert van die Nederduitsch Hervormde Kerk-Welgelegen 'n e-pos ontvang wat sy gemeente se gesamentlike droom laat waar word het.
POLOKWANE – Verlede Dinsdag het ds. Henk Joubert van die Nederduitsch Hervormde Kerk-Welgelegen ‘n e-pos ontvang wat sy gemeente se gesamentlike droom laat waar word het.
Die gehekelde kombers waaraan soveel gemeentelede verlede jaar gewerk het is amptelik aangewys as die grootste gehekelde kombers in die wêreld deur die span van die Guiness Book of World Records.
Die projek was die breinkind van Joubert nadat hy by Trix Pansegrouw gehoor het van inwoners in ouetehuise in die stad wat nie kniekombersies gehad het nie, maar handoeke gebruik het om oor hul knieë te gooi om warm te bly op koue dae.
“Ons het as gemeente besluit om Maandagaande bymekaar te kom en kombersies te hekel. Nie net vir die mense in die ouetehuise nie, maar ook vir kinders in kinderhuise. Die vereiste was dat elke kombers 1m by 1,5m groot en van wol gehekel moes wees,” het hy verduidelik.
Om die gemeenskap en gemeente aan te moedig het die gemeente besluit om die wêreldrekord te probeer opstel. Hulle het besluit om 400 komberse te hekel waarna dit met wol aanmekaar gewerk sou word.
“In Februarie verlede jaar het ons die amptelike dokumentasie van die Guiness Book of World Records ontvang en kon ons in alle erns begin. Almal het gehekel, van laerskoolleerders tot 80-jariges. Mans en vroue het almal ewe hard gehekel. Die wat nie kon hekel nie, het wol geskenk, maar almal was deel van die projek,” het hy gesê.
Na slegs 12 weke het die gemeente hulle doelwit van 400 komberse bereik, maar hulle het nie opgehou hekel nie.
Op 8 Augustus verlede jaar is die komberse aanmekaargewerk en die reuse kombers is op Laerskool Pietersburg-Oos se rugbyveld oopgerol om gemeet te word.
Weens die posstaking verlede jaar, is die gemeente se dokumentasie vertraag en het hulle ses maande gewag om te hoor dat die kombers wat hulle gehekel het, en wat uiteindelik 1 020,13 m² groot was, amptelik die grootste gehekelde kombers ter wêreld is.
“Ek was so bly toe ek dit hoor. Ek het amper deur die dak gespring,” het Joubert vertel.
“Al die komberse is intussen losgemaak en aan behoeftige mense en instansies geskenk. Ons gaan egter nie ophou nie, ons het nog wol gekry en gaan aan met die projek, maar nou kan mense die komberse brei of hekel.”



