Vyf broers almal deur Tommie-tiere se hek
"Die besluit was deur ons ouers gemaak om ons na HTS Tom Naudé te stuur, en ek is nog nie een dag spyt oor daardie besluit nie. Dit was en is steeds 'n wonderlike skool om van deel te wees."
POLOKWANE – “Die besluit was deur ons ouers gemaak om ons na HTS Tom Naudé te stuur, en ek is nog nie een dag spyt oor daardie besluit nie. Dit was en is steeds ‘n wonderlike skool om van deel te wees.”
So vertel die broers van hulle skooldae by HTS Tom Naudé. Hulle was deel van die skool se leerlingraad en het al vyf rugby gespeel en aan atletiek deelgeneem.
Vier van die Potgieter-broers het elk drie kinders, en vandag is daar nie net bloed wat hulle bind nie, maar ook hegte vriendskappe.
Frikkie (72), Hendrik (70), Peet (66), Anton (65) en Johan (62) is almal in Elim Hospitaal gebore. Hulle het Laerskool Groot Spelonken naby Soekmekaar bygewoon en daarna was hulle leerders aan HTS Tom Naudé.
Frikkie was in die skool van 1956 tot 1961 waar hy op die leerlingraad gedien het. In 1958, tydens sy standerd 8-jaar (gr. 10) moes hy ‘n rugoperasie ondergaan wat sy rugbyloopbaan gestuit het.
Hy het na skool by die weermag aangesluit en het na sy diensplig by Yskor begin werk as ‘n passer-en-draaier. Hy was met Susan getroud en hulle het drie kinders gehad. Tans is hy ‘n lektor by NTEK Tegniese Kollege.
Hendrik is ‘n pensioenaris wat homself in Pretoria vestig.
Hy was van 1958 tot 1963 aan die skool verbonde en het in sy ouboet se voetspore gevolg. Hy het rugby gespeel en aan atletiek deelgeneem en was ook op die leerlingraad.
Na sy diensplig het hy ook by Yskor begin werk en het later met Frieda getrou. Hulle het drie kinders.
“Ek was van 1962 tot 1968 in die skool, het rugby gespeel maar meer in atletiek uitgeblind. Ek was hoofprefek by die Rooibok koshuis en ook op die leerlingraad.
“Ek het na skool by die SAUK begin werk en is in 1980 verplaas. Ek is met Isabel getroud en ons het drie kinders.” vertel Peet.
Anton was aan die skool verbonde tussen 1963 en 1967 waar hy kaptein van die tweederugbyspan was, en ook prefek was.
Hy het na skool by Telkom gaan werk, maar is tans ‘n pensioenaris en ‘n trotse pa van drie wat saam sy vrou Rina in Pretoria woon.
Kleinboet Johan is destyds vir die Cravenweekrugbyspan gekies. Hy het in 1983 op die myn begin werk maar het dit later vir die sekuriteitsbedryf verruil. Hy is getroud met Erika, geseën met twee kinders en woon in Rustenburg.
“Ons hou jaarliks ‘n familienaweek waar al die broers met hul vroue, kinders en kleinkinders saam kom en ons heerlik kuier. Ek onthou my pa het nooit ‘n rugbywedstryd misgeloop nie. Hy was altyd langs die veld.”
Peet vertel dat alhoewel die broers nie in dieselfde koshuis was nie, hulle steeds goeie vriende was. Hy vertel dat daar destyds goeie dissipline was en dat dit hulle help vorm het in die mense wat hulle vandag is.
Tydens Tom Naudé se onlangse reünie was Peet, Frikkie en Anton teenwoordig. Die ander twee broers kon ongelukkig nie daar wees nie.
For more breaking news, visit our website ReviewOnline or follow us on Twitter or Facebook



