Editor's noteLocal NewsNews

Willie Pretorius was ‘one of a kind’-mens

'n Veteraan in die besigheidsbedryf en bekende inwoner van die stad, Willie Pretorius (65) is Sondagoggend vroeg oorlede nadat hy verlede Vrydag in die Limpopo Mediclinic opgeneem is.

POLOKWANE – ‘n Veteraan in die besigheidsbedryf en bekende inwoner van die stad, Willie Pretorius (65) is Sondagoggend vroeg oorlede nadat hy verlede Vrydag in die Limpopo Mediclinic opgeneem is.

Willie was een van die stigterslede en vennoot van Steve en Willie Uitrusters in Schoemanstraat wat al sedert 1979 kwaliteit mansklere verskaf aan die dorp se inwoners.

Willie was vir 43 jaar getroud met Liza en hy laat ook twee kinders, vier kleinkinders en ‘n suster, Petro Enslin agter.

“Hy was ‘n liefdevolle mens, wat altyd reg was vir ‘n grappie, sy voete was plat op die aarde,” vertel Liza. “‘n ‘One of a kind’ soort mens, wat altyd daar was vir ander.”

“Ons was saam op skool en ken mekaar al sedert 1967,” vertel Jannie, Willie se sakevennoot sedert 1987. Hy sal Willie onthou as ‘n stil en ondersteunende vennoot, ‘n sagte mens en ‘n goeie vriend. Steve en Willie Uitrusters het vier vennote gehad, van wie Jannie die laaste oorblywende vennoot is.

“‘n ‘One of a kind’ soort mens, wat altyd daar was vir ander”

Herman van Alleman was ook huisvriende met Willie-hulle van die 1980’s af, en hy en Willie het gereeld jaarliks gaan jag en vakansie hou. Willie en sy gesin was aanvanklik vriende met Herman se ouers, maar hulle was eenmaal saam met vakansie en vandaar was hulle ook groot huisvriende.

“Daar is soveel mooi herinneringe, ek sal hom verseker baie mis.

“Dit was altyd so lekker om vir hom kos te maak, want hy het elke stukkie so geniet, hy wou net altyd vir almal iets goeds doen.”

Liza wil graag die familie se besondere dank uitspreek teenoor Doreen Pretorius met die hulp om al die papierwerk af te handel. Sy het dankie gesê aan drs. Paul Vorster en Pierre Burger sowel as die personeel van saal C in die Limpopo Mediclinic vir die goeie versorging van Willie, asook die medelye en bemoediging van alle vriende en familielede.

‘n Roudiens vir Willie word Vrydagoggend (more) om 11:00 vanuit die N.G. Renosterpoortgemeente in Pietersburgstraat gehou.

 

For more breaking news, visit our website ReviewOnline  or follow us on Twitter or Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button