Koop van hiérdie vir goeie doel
"Bewusmaking oor outisme behoort nie net aan 'n spesifieke maand gekoppel te word nie, maar moet elke dag gebeur."
POLOKWANE – “Bewusmaking oor outisme behoort nie net aan ‘n spesifieke maand gekoppel te word nie, maar moet elke dag gebeur.”
Aan die woord is Bianca Jardim, een van die finaliste in die Mnr. en Mej. Heuwelkruinkompetisie.
Sy is een van drie Kruinies wat outisme as fokuspunt gekies het as deel van hul gemeenskapsprojek. Die ander leerders is Kamalan Naido en Mauritz Pretorius. April was outismebewusmakingsmaand.
Dié projek lê vir Bianca na aan die hart, juis omdat haar jonger broer onlangs met outisme gediagnoseer is. Met Curro Heuwelkruin se hoof, Eben Lingenfelder se toestemming, het leerders handgemaakte balkies op hul baadjies gedra vir ‘n week lank. Dié balkies bevat bewusmakingsboodskappe oor outisme.
“Ons wil graag elke Kruinie wat hul ondersteuning gewys het, asook elke onderwyser, bedank. Woorde kan nie beskryf wat dit vir ons beteken nie.” Die opbrengs van die balkieprojek gaan geskenk word aan ‘n organisasie wat regoor die land hulp verleen rakende outisme, Aut2Know.
“Hulle het tans agt verteenwoordigende hulpoorde regoor Suid-Afrika.
Aut2Know reik uit na kinders met outisme deur diagnosering, terapie en ander riglyne om seker te maak dat elke persoon sy lewe voluit kan leef.” Hulle webbladadres is https://www.aut2know.co.za/understand-autism.php.
“Ons wou nie net ‘n verskil maak in mense se lewens nie, ons wou ook ander mense bewus maak van wat om hulle aangaan. Kinders is geneig om die spot met mekaar te dryf.
“Ons lewe dikwels net verby mekaar sonder om vir ‘n oomblik die mense rondom ons in ag te neem en te vra waarom hulle soms anders optree.”
Volgens Bianca is daar ‘n goeie verklaring daarvoor: “Dis nie omdat die persoon ‘weird’ is nie. Ons is te gou om te oordeel na aanleiding van wat ons sien. Ons boodskap is eenvoudig: ‘don’t judge a book by its cover’. Kyk ‘n bietjie wie is die mense rondom jou.”




