VOL BERIG: Sakeman vas oor vee
‘n Bekende sakeman van die stad wat voorheen aan die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad betrokke was, is die naweek in hegtenis geneem.
POLOKWANE – ‘n Bekende sakeman van die stad wat voorheen aan die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad betrokke was, is die naweek in hegtenis geneem.
Die man, wie se naam weerhou word tot hy in die hof gepleit het, word deur die Seshego-polisie se veediefstaleenheid tans verbind met 20 bedrogsake.
Die man, wat voorheen ‘n argitek-, projekbestuurboufirma in die stad bedryf het, is Saterdag gearresteer en bly tans in aanhouding tot 14 Julie wanneer hy formeel om borg sal aansoek doen.
Volgens die polisie se provinsiale veediefstaleenheid- koordineerder, lt.kol. Alpheus Mokale het 10 persone verlede week klagtes teen die man aanhangig gemaak.
Die persone beweer die sakeman en sy trokbestuurder het hulself as spekuleerders voorgehou om vee onder valse voorwendsels te koop en verkoop.
Volgens Mokale het die klaers verder beweer hulle het vooruitgedateerde tjeks as betaling ontvang.
Die tjeks sou later deur die bank teruggestuur word.
Mokale het bevestig dat verskeie sake by ander polisiestasies in die omgewing oopgemaak is en tot die klagstaat bygevoeg sal word.
Agt addisionele sake is reeds by die Matlala polisiestasie oopgemaak.
Een van die persone met wie Review gepraat het, het gesê sy het ‘n tjek vir ‘n groot bedrag geld, maar dat sy net haar beeste wil terughê.
“Ek is al oud en die beeste is my enige bron van inkomste,” het sy gesê.
Volgens Mokale is talle van die beweerde slagoffers pensioenarisse wat min of geen inkomste het.
Die polisie se provinsiale woordvoerder, kol. Ronel Otto het aan Review bevestig dat altesaam 29 klagtes formeel ingedien is.
Die klagtes hou verband met bedrog en diefstal onder valse voorwendsels.
Seshego polisie se woordvoerder adj.off. Mothemane Malefo, het bevestig dat die sakeman en sy bestuurder tans in aanhouding is.
Plaaslike prokureur Osie Oosthuizen, wat die man se regsverteenwoordiger is, het bevestig dat hy ‘n onafhanklike ondersoek geloods het na die saak.




