Dr. Tandemuis kom help Cathy
'n Tandarts in die stad het Cathy se storie gelees en besluit om haar spesiale tandemuis te wees.
POLOKWANE – Einde Junie het Review vertel van Cathy Baker wat op die ouderdom van 28 jaar weer vir die tandemuis wag, hierdie keer om vir haar tande te bring.
Cathy het haar boonste voortande in 2007 tydens ‘n motorfietsongeluk beskadig en moet nuwe tande kry.
‘n Tandarts in die stad het Cathy se storie gelees en besluit om haar spesiale tandemuis te wees.
Dr. Tandemuis het haar gekontak en gereël dat sy vir ‘n ondersoek gaan.
Hy het tydens die ondersoek van haar tande vir haar gestop.
“Hy het ook die mates geneem vir die plaatjie wat hy gaan insit vir my nuwe tande. Ek gaan Donderdag terug na hom toe, dan kry ek die plaatjie,” sê Cathy.
Na die ongeluk het Cathy uitdagings gehad omdat sy nie gemaklik kon eet nie en ook nie meer breed kon glimlag nie. Haar mond is ook dikwels geswel en soms is daar ook infeksie wat baie pyn veroorsaak.
“Ek is verskriklik dankbaar vir wat dr. Tandemuis vir my doen. Ek sal weer mooi kan glimlag en nie skaam hoef te wees nie.
“Dankie dokter vir jou en jou span,” sê Cathy met trane van dankbaarheid in haar oë.
*Die tandarts het versoek om anoniem te bly.
Help Cathy om weer breed te glimlag




