NUUTSTE: Sakeman vas oor vee
'n Bekende sakeman van die stad, Fanie Lochner en een van sy werkers, Simon Lesiba Segwapa, wat 'n week gelede in hegtenis geneem is, het op Dinsdag, 14 Julie in die Seshego landdroshofhof verskyn vir 'n formele borgaansoek.
POLOKWANE – ‘n Bekende sakeman van die stad, Fanie Lochner en een van sy werkers, Simon Lesiba Segwapa, wat ‘n week gelede in hegtenis geneem is, het op Dinsdag, 14 Julie in die Seshego landdroshofhof verskyn vir ‘n formele borgaansoek.
Lochner en Segwapa wat deur die Seshego polisie se veediefstaleenheid ondersoek word, is op Saterdag, 4 Julie gearresteer en hulle het in aanhouding gebly.
Volgens die polisie se provinsiale veediefstaleenheidkoördineerder, lt. kol. Alpheus Mokale, het 10 persone verlede week klagtes teen Lochner en Segwapa aanhangig gemaak.
Die klagtes hou verband met bedrog en diefstal onder valse voorwendsels.
Die polisie se provinsiale woordvoerder, kol. Ronel Otto het aan Review bevestig dat altesaam 29 aanklagte tot dusver formeel ingedien is.
Tydens die borgaansoek het die staat nie borg teengestaan nie, maar het weens die waarde van die klagtes aanbeveel dat Lochner en Segwapa afsonderlik op R5 000 en R2 000 borg vrygelaat moet word.
LanddrosTumisho Tladi het dit egter nie toegestaan nie en die beskuldiges is op borg van R3 000 elk vrygelaat. Volgens landdros Tladi is borg toegestaan omdat beide die mans broodwinners van hulle families is en omdat hulle oor geen dokumentasie beskik om die land te verlaat nie.
Die borg is toegestaan op die voorwaardes dat hulle nie mag inmeng met die ondersoek nie en dat hulle geen kontak met die getuies mag hê nie.
Hulle is ook gemaan dat albei vir elke hofdatum persoonlik in die hof moet verskyn, sonder uitsondering.
Daar is ‘n voorlopige klagstaat ingedien waarop Lochner se regsverteenwoordiger, Andries Rheeder, ooreengekom het dat daar nog klagtes bygevoeg kan word indien nodig.
Lochner en Segwapa sal weer op Woensdag, 9 September in die hof verskyn.




